'n Deel van die Rooifontein-wildsplaas. Foto: Helena Barnard
‘n Deel van die Rooifontein-wildsplaas. Foto: Helena Barnard

Lede van die Rooifontein Wildklub en die breër gemeenskap, sakepersone en ander belanghebbendes van Kimberley het indringende vrae aan ‘n konsultant van ‘n mynmaatskappy van Christiana gestel en hul misnoeë oor planne om vir diamante op die Rooifontein-wildsplaas te myn, uitgespreek.

Gemoedere het hoog geloop by dié openbare vergadering op Donderdag 28 Augustus. Die myn, Affordable Outcomes, se konsultant, Lindie Wiehahn van LW Konsultante, het ook warm onder die kraag geraak. ‘n Vergadering met belanghebbendes is ‘n vereiste in die proses om ‘n mynpermit te bekom.

Lindie Wiehahn, konsultant vir Affordable Outcomes wat vir diamante op Rooifontein wil myn. Foto: Charné Kemp

Verskeie persone teenwoordig het gesê die myn is onwelkom op Rooifontein.

Affordable Outcomes se eienaars, Shawn Mace en Mohammed Rayanna Mustapha, kon glo nie teenwoordig wees nie “weens ‘n ander dringende vergadering”.

Rooifontein is ‘n wildplaas net buite Kimberley, met onder meer ‘n onthaalsaal, en ontspannings- en verblyfgeriewe, en die Kimberley parkrun word elke Saterdag hier aangebied. Rooifontein val gedeeltelik in die Vrystaat en die Noord-Kaap.

Volgens Lucille van Niekerk, ‘n bestuurslid van die Rooifontein Wildklub, geniet sowat 5 000 mense gereeld die “geriewe en ongeskonde natuurskoon waar hulle wild besigtig, hardloop, fietsry, stap, en sekere tye van die jaar jag.”

‘Bewoording net gekopieerde teks en vaag in besonderhede’

Jahn Hohne, uitvoerende hoof van Ekapa Minerals wat die grond besit, het sy vingers op die podium getrommel terwyl hy sy brief gelees het waarin sy besware teen die beoogde mynaktiwiteite op 321 hektaar uiteengesit is. Die beoogde myn is naby die wateropgaardam wat vir wild gebruik word, asook die Olifantsfontein-gastehuis. Daar is reeds ‘n waterskaarste in die omgewing en nog ‘n myn sal die bronne verder uitput.

Jahn Hohne, uitvoerende hoof van Ekapa Mining, sê die Rooifontein-wildplaas sal vernietig word as daar gemyn word. Foto: Charné Kemp

Hohne en sy maatskappy staan die “verwoesting van ‘n natuurskone plaas met ontspanningsgeriewe wat Kimberliete al dekades lank geniet, hewig teen”, sê hy.

Volgens hom is die bewoording in die voorstel net gekopieerde teks van elders en vaag in besonderhede. Nog minder is daar ‘n hersonering van die landbougrond gedoen.

“Dit sal ‘n oopgroefmyn wees, wat heeltemal onaanvaarbaar vir ons en die klublede is wat die wildplaas vir ontspanning gebruik.”

Hohne het benadruk daar is geen “nabygeleë wettige verwerkingsaanleg” soos in die mynaansoek aangedui nie. Daar was geen voorafprospektering voor die aansoek om die mynpermit gedoen is nie.

Uit dekadeslange ervaring weet hy daar is geen spoeldiamante op die plaas soos die myn in sy aansoek beweer nie. Die aansoek bevat geen akkurate mynplan wat op professionele wyse beskryf hoe daar na kimberliet gemyn gaan word nie.

“Net 7% van alle kimberliet bevat diamante wat winsgewend ontgin kan word, en net 7% daarvan is ekonomies lewensvatbaar. Net 1% van diamantmyne wêreldwyd is in bedryf.”

Volgens Hohne het die aansoekers weens hul gebrek aan ‘n deeglike eksplorasie-program “geen idee watter minerale eintlik onder die grond is nie”.

“De Beers aan wie die grond voorheen behoort het, het twee indiepte studies gedoen en oral prospekteergate geboor. Daar is geen vertikale diamantpype nie, net horisontale lae. Die kimberliet het nie genoeg diamante om ekonomies lewensvatbaar of winsgewend te wees nie. Ander mynmaatskappye het ook tientalle prospekteergate langsaan Rooifontein geboor maar hul sakke gepak ná reuseverliese.”

Dit was vir hom ontstellend dat die konsultante nie “eens die besonderse dierelewe wat op die plaas voorkom, soos sekretarisvoëls en die miershooptier, in hul verslag noem nie”. Voëlkenners het al 200 spesies op die plaas aangeteken.

‘Rooifontein rykste bron van geskiedenis’

Steve Lunderstedt, skrywer, navorser en historikus van Kimberley, sê Rooifontein het die “rykste bron van geskiedenis soos Khoisan petrogliewe en rotstekeninge, ‘n Tweede Wêreldoorlog ammunisietoetsterrein, die hoofkwartier van die Vrystaat Burgers in die Anglo Boereoorlog met ruïnes van ‘n ou dorpie en ‘n kamp, mynkampe van die 1880’s, en nog meer. Ons sal enige mynery hewige teenstaan.”

Adv. Schalk Strydom sê hoewel Affordable Outcomes glo 27 mense in diens wil neem, is hulle “stil oor Rooifontein se 11 werkers wat sonder werk gelaat word”.

Adv. Schalk Strydom is teen die beoogde mynery op Rooifontein gekant. Foto: Charné Kemp

“Jul beloftes bevat geen werklike plan nie, dit probeer paai. Ons totale teenkanting moet in jul verslag oor die openbare deelname proses ingesluit word.”

Kimberly Sassin, prokureur, wou weet of die maatskappy kan toon hoe hy sy ander myne suksesvol rehabiliteer het tot die oorspronklike vorm, ook hoe wild teen stropery beskerm gaan word, en hoe heinings wild en voëllewe werklik beskerm.

Kobus van den Bergh, ‘n buurman van Rooifontein, het aan Wiehahn gevra watter navorsing gedoen is oor skaars waterbronne.

“Julle sal ons drinkwater uitput. Daar is geen inligting oor toegangspaaie en die rehabilitasie daarvan nie. Dink julle die Sol Plaatje-munisipaliteit gaan water aan julle gee?”

Hierop het die teenwoordiges gelag en hande geklap, terwyl Wiehahn haar oë gerol en met “ons weet ook nog nie hoe ons die paaie gaan rehabiliteer nie. Waterbronne is skaars. Ons wil nie grondwater pomp nie, maar die munisipaliteit vir water vra” reageer het.

Besware is gemaak omdat geen ruimtelike grondgebruikplan ingedien is nie.

Chris Whittaker van die bestuur van die Kimberley parkrun het gesê as die myn eers op die grond toegelaat word, is daar min wat hulle sal keer om verder uit te brei.

Farrell Moses het gesê die mynery sal net nog onwettige myners na die gebied lok en misdaad verhoog.

Annette Visser sê wanneer haar vriende kom kuier, gaan skep hulle asem en ontspan op Rooifontein, waar hulle as bejaarde vroue baie veilig voel.

Rivonia Morwakgosi
Rivonia Morwakgosi sê die gemeenskap van Kimberley is teen die beoogde mynery by Rooifontein gekant. Foto: Charné Kemp

Rivonia Morwakgosi sê dis vreemd dat ‘n maatskappy in Noordwes deur die Vrystaatse regering aansoek vir ‘n myn in die Noord-Kaap doen.

“Waar is die verantwoordbaarheid? Hoekom kry julle so baie tyd om aansoek te doen, maar ons as die gemeenskap het net 14 dae om beswaar aan te teken?”

Nog ‘n beswaarde inwoner sê dit is die derde mynaansoek op die plaas, en gebrekkig daarby. “Affordable Outcomes wat nie eens opgedaag het nie, se voornemens klink soos ‘n politieke toespraak.”

‘Eienaars het goeie sake-reputasie’

In haar voorlegging het Wiehan gesê die eienaars het ‘n goeie sake-reputasie.

Vele wetlike prosesse moet nog gevolg word voordat daar ‘n finale besluit oor die mynpermit geneem sal word.

“Die myn sal die plantegroei beskerm en plante wat uitgehaal word, vervang. Die myn sal afgesper wees om diere te beskerm. Versteurde grond sal gerehabiliteer word. Mynstof sal onderdruk word om die gemeenskap se gesondheid in te ag neem. Infrastruktuur sal so onopsigtelik moontlik wees. Die myn sal rommel wegry, en chemiese besoedeling bekamp.

“Hulle sal impakstudies doen oor die omgewing, erfenis, hidrologie en sosio-ekonomiese gevolge oor ontspanningsgeriewe, en stropery en misdaad probeer bekamp, verkeersveiligheid handhaaf en soortgelyke kwessies oplos.”

Volgens Wiehahn kan die “myn en belanghebbendes in harmonie saamwerk”.

‘n Groot aantal lede van die gemeenskap het die vergadering oor die beoogde mynery by die Rooifontein-wildsplaas bygewoon. Foto: Helena Barnard

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article