’n Verdagte is in hegtenis geneem nadat twee matriekleerlinge van Dithakong, oos van Kuruman, glo in die middel van die nag deur inbrekers uit hul huis gesleep en herhaaldelik verkrag is.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, sê die voorval het op 22 Februarie gebeur.
“Die aanvallers het by die huis ingebreek terwyl die meisies geslaap het. Hulle het die meisies na ’n veld gesleep, waar hulle herhaaldelik verkrag en met messe gesteek is,” sê Van der Merwe.
Volgens hom is dit ’n wonderwerk dat die meisies, wat ernstig beseer en in die hospitaal is, die aanval oorleef het. Inwoners van Dithakong leef nou in vrees.
Zolile Monakali, LUR vir onderwys, en Nontobeko Vilakazi, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het hulle verlede week besoek om hul bekommernisse te bespreek.
Van der Merwe sê die gemeenskap is teleurgesteld in die polisie en voel die regstelsel laat hulle in die steek.
“Die gemeenskap eis dat die oortreders onmiddellik in hegtenis geneem word. Terwyl die inwoners van Dithakong in vrees lewe, loop die skuldiges vry rond,” sê Van der Merwe.
Volgens die gemeenskap is dit glo nie die eerste keer dat die aanvallers toeslaan nie.
Die departement van maatskaplike ontwikkeling het maatskaplike werkers beskikbaar gestel om die leerlinge en inwoners by te staan.
Die polisie in Kuruman se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings ondersoek ’n saak van verkragting. Volgens kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, is een verdagte in verband met die voorval in hegtenis geneem.