’n Petisie is teen die Dawid Kruiper-munisipaliteit opgestel en inwoners van Upington word gevra om dit te onderteken.
“Ons is moeg gesukkel in Upington,” sê ’n ingeligte.
“Dit kan nie so aangaan nie.”
Die inwoner wat die petisie op ’n elektroniese petisieblad begin het, sê die munisipaliteit lewer ondernormale dienste.
Klagtes sluit in ’n toename in slaggate; swak instandhouding van paaie, parke, sypaadjies, riolering, openbare oorde, swembaddens en ander infrastruktuur; swak bestuur en optrede teen onwettige rommelstrooiery; swak beheer oor onwettige buitelanders; die onvermoë om ’n oplossing met haweloses te vind; en die onvermoë om teen dwelmhandelaars op te tree en dwelmmisbruik te verminder.
Die munisipaliteit word ook daarvan beskuldig dat daar nie op klagtes gereageer word nie.
In die petisie word die munisipaliteit versoek om binne 14 dae van ontvangs dringend te reageer op die punte wat genoem word.
Die munisipaliteit word ook versoek om Die Eiland, Reitzpark en Blou Dakke óf te herstel, óf aan private beleggers te verkoop. Dit sluit staatsamptenare uit.
Nog ’n saak wat dringende aandag vereis, is die uitreiking en beskikbaarstelling van grond.
“Grond kan nie net aan nie-betalende burgers uitgereik word terwyl betalende, werkende burgers geen toegang daartoe het nie,” lui die petisie.
- ’n Skakel na die elektroniese petisie kan op die Facebook-blad Upington Concerned Citizens gekry word, of op die webblad change.org.