Inwoners van Royldene, wat verlede jaar moed geskep het toe herstelwerk op slaggate in Kimberley begin is, is woedend nadat die werk sonder enige verduideliking tot ’n knarsende halt gekom het.
Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, het verlede jaar in April sowat R500 miljoen bewillig om die Diamantstad en ander dorpe se infrastruktuur op te knap. Hiervan sou R180 miljoen bestee word om paaie te herstel. Dit sou glo in samewerking met die Sol Plaatje-munisipaliteit gedoen word.
Saul het destyds gespog dat dié werk teen die einde van 2021 voltooi sou wees.
“Ons verbind ons daartoe dat daar teen die einde van die jaar geen slaggate in en om Kimberley sal oor wees nie,” het hy gesê.
Inwoners is ontevrede oor die feit dat die werk onvoltooid gelaat is, en kla dat die werkers ou teer in hope langs die paaie gegooi het en morsig te werk gegaan het.
Intussen is hope ou teer wat nie ná die herstelwerk verwyder is nie in die veld oorkant Heerengrachtlaan gestort.
Inwoners kla dat die werkers tydens die herstelwerk sypaadjies en rylane met teer, koeldrankbottels, kospapiere en ander rommel bemors het.
Adv. Laverebe Accom moes iemand huur om skoon te maak waar die werkers haar sypaadjie bevuil het.
“Die werkers het hul klere en sakke op my mure en hekke gehang en ou en nuwe teer op my sypaadjie en op my rylaan gegooi, tesame met die vullis van hul etes. Hulle het reg rondom my hoekhuis gemors. Sol Plaatje se werkers het geen respek vir ’n mens se eiendom nie.”
Chris Louw, wat in Vergelegenlaan bly, pleit vir die straat se voortbestaan. Volgens hom word die straat altyd oorgesien wanneer herstelwerk gedoen word.
“Ek bly sedert 1984 hier. Ondanks talle skriftelike en telefoniese versoeke en smekinge oor die jare heen het die munisipaliteit nooit die pad herstel nie. Nog nooit is enige slaggat herstel nie, behalwe vir die onvoltooide werk wat enkele maande gelede aan die een kant van Vergelegen gedoen is. Die ander kant is onvoltooid en gevaarlik gelaat,” sê hy.
“Deur die jare is slaggate van tyd tot tyd in ander strate soos Heerengrachtlaan, Leeuwenhoflaan en Libertaslaan in Royldene herstel, maar Vergelegenlaan is elke keer oorgeslaan. Die spoedbulte wat vroeër in Leeuwenhoflaan aangebring is, het die situasie versleg omdat motoriste nou Vergelegenlaan gebruik. Die owerhede het toegelaat dat die pad verval.”
Nog ’n inwoner sê twee hope ou teer is in Constantialaan gestort, Uitzichtlaan se slaggate is nie herstel nie en die slaggate wat in Groote Schuurlaan herstel is, het weer gevorm weens werk van ’n swak gehalte.
Peet Louw, DA-wyksraadlid, sê die stad se padinfrastuktuur bly skokkend swak al het die premier voorgeneem die slaggate sal teen die einde van 2021 herstel wees.
“Dalk was dit net ’n verkiesingsfoefie voor die munisipale verkiesing, eerder as ’n werklike poging om die stad weer te laat sprankel. Ek is besig met ’n opname van al die slaggate in wyk 23, waarna ek ’n verslag aan die munisipaliteit sal oorhandig.”
Volgens Bronwyn Thomas-Abrahams, woordvoerder van die premier, duur die program om infrastruktuur op te knap voort.
“Benewens die provinsiale program doen die Sol Plaatje-munisipaliteit ook sy eie herstelwerk waarin paaie geseël word. Ons het voorsien dat die slaggate teen verlede jaar herstel sou wees, maar die aanhoudende reënval het ons benadeel. Dit plaas ook druk op ons vloedwaterpypleiding, wat ook opgeknap moet word.
“Die munisipaliteit werk hard om die probleme op te los. Ons sal die departement van paaie en openbare werke versoek om ondersoek te doen na die werk van ’n swak gehalte.”