Die lyk van ’n geliefde inwoner van Postmasburg is Donderdag (09/07) in haar bed in haar huis in Postdene gevind.
Volgens brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, is Carolina Jacobs (62) verkrag en vermoor.
“Die matras waarop die vrou se lyk aangetref is, is aan die brand gesteek. Die nadoodse ondersoek wat Vrydag (10/07) op haar gedoen is, toon dat sy verkrag en verwurg is,” sê Ramatseba.
Volgens Ramatseba is ’n 72-uur-aksieplan plan dadelik in werking gestel.
Jacobs se skootrekenaar, selfoon en handsak met haar motorsleutels is vermoedelik gesteel.
Dit is in die stadium nie seker of daar meer as een mens by die aanval betrokke was nie.
Inwoners van Postmasburg sê hulle is erg geskok.
Jacobs het bestuurslesse aangebied en is gereeld deur die myne gekontrakteer om deel te neem aan van hul programme vir vaardigheidsontwikkeling.
’n Inwoner wat nie haar naam bekend wil maak nie, sê Jacobs was ’n briljante instrukteur.
“Sy het geen kwaad in haar gehad nie. Ons dorp is stom ná die gebeure.”
Lt. genl. Risimati Peter Shivuri, provinsiale polisiekommissaris van die Noord-Kaap, het die moord en verkragting op Jacobs ten sterkste veroordeel en sê geen steen sal onaangeraak gelaat word om die moordenaar vas te trek nie.
Mense met inligting wat die polisie kan help, moet konst. Christeen van der Westhuizen by 083-532-1417 bel of AO Nomvuyo Makoloi by 082-454-3547.
Brig. Nicky Mills, provinsiale bevelvoerder van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (GKS), kan ook by 082-371-6667 gebel word. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.


