Die Con Spirito-eisteddfod word vanjaar vir die derde keer in die Noord-Kaap aangebied, en leerlinge kan nou inskryf in kultuurafdelings vir onder meer sing, dans, instrumentaal, redenaars, drama, lees, kuns en kreatiewe skryf.
Inskrywings kan deur die skool, of in ’n privaat hoedanigheid gedoen word.
Die eerste ronde in elke kategorie vind by verskeie liggings in die onderskeie provinsies plaas. Die beste presteerders word genooi om later vanjaar aan die nasionale forte (wat “gaan groter” beteken) ronde in Johannesburg deel te neem. Hier word die afdelings- en nasionale wenners bepaal.
Die nasionale forte-ronde vind vanaf 20 tot 31 Augustus in Johannesburg plaas, terwyl die prestige toekenningsdag op Saterdag 14 September plaasvind.
Dié eisteddfod is deel van Con Spirito, ’n kultuurvereniging, wat reeds 22 jaar bestaan en in die laaste sewe jaar nasionaal uitgebrei het.
Con Spirito het baie klein begin in die Ou Poskantoor in Boksburg, wat later in ’n klein teater omskep is en nou ’n historiese monument is.
Daarna het die byeenkoms na ’n skool in Boksburg verskuif, en later na ’n kerksaal. Con Spirito het ’n betrokkenheid in al die ander provinsies, en die vereniging wil graag kultuur bevorder, geleenthede skep, en talent ontdek en ontwikkel.
Die Noord-Kaapse been van die eisteddfod vind van 24 tot 26 Julie by die Hoërskool Diamantveld in Kimberley plaas. Inskrywings sluit 7 Junie.
Vir meer inligting, bel vir Lizelle van Staden by 083-660-4822, of skryf aan lizelle@conspirito.co.za of admin1@conspirito.co.za.
- Besoek conspirito.co.za vir meer inligting, en ook om aanlyn registrasies en inskrywings te doen.




