Die stil buurt van Royldene in Kimberley is Sondagoggend
wakker geruk toe drie vermeende inbrekers met hul slagoffer se rooi
Golf-voertuig in hul vlugtog teen ‘n buurman se grensmuur vasgery het.
Die voertuig se agterkant het deur die muur gedruk en diep
krake is veroorsaak.
Twee ooggetuies skuins oorkant die huis waar daar ingebreek
is, sê hulle het na 10:00 die bure se hek hoor oopgaan en ‘n motor se wiele
hoor tol.
“Ons het eers gedink dit is ‘n werker, maar besef dit is ‘n
inbraak. Die Golf-voertuig het agteruit gery. Dit het nie gelyk of die
bestuurder kon bestuur nie. Ek en my vriendin het uithardloop.
“Ons het op hulle geskreeu, waarna die inbrekers toe met die
motor linksom op die sypaadjie en teen die buurman se muur gebots het. My
vriendin het paniekerig geraak, waarna die vermeende inbrekers ‘n pistool op
ons gerig en weghardloop het. Ons het
haar broer wakker gemaak. Ons drie het in ons motor geklim om na hulle te soek,
maar vergeefs.
“Hulle in Greenpoint se rigting gehardloop.”
Renee Cross, by wie se huis ingebreek is, was erg geskok.
“Ons was net uit om saam met ons seun motorfiets te gaan ry
toe ‘n vriend ons met die nuus gebel ons terug gekom het. Ons hele huis is
omgekeer. My kantoortoerusting, skootrekenaar en my seun se videospeletjie is
gevat. Ek is nie seker wat alles weg is nie, ek neem aan dit is alles in die
motor gelaai. Ek het nog nie daarbinne gaan kyk nie. Die mans het deur ‘n
venster aan die huis se voorkant ingebreek en ook die Golf se sleutel
gevat.”
Haar buurman wie se muur beskadig is, was nie tuis ten tyde
van die voorval nie.
Die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel.


