Hoewel ’n maatskappy in Kimberley ongeveer R97 000 per maand aan heffings en eiendomsbelasting aan die Sol Plaatje-munisipaliteit betaal, moet sy werknemers en hul klante tot drie maal per dag koes wanneer ’n oneffektiewe rioolpyp oorborrel, die straat oorstroom en verbygaande vragmotors die rou riool tot aan die ruite van hul kantoorvensters en oor hul voertuie spat.
Danie Botha en Deon Schoeman, bemarkers by Auto Commodities Northern Cape in Studystraat, waar die Kimberley-brandstofterminaal geleë is, bly boonop gedurende die week op die perseel. Nie net moet hulle met die reuk saamleef nie – die riool druk soms tot in die perseel se rioolafvoerpype op.
Die terminaal bring mee dat diesel goedkoper in die provinsie verskaf kan word. Dit bestaan uit tenks ondergrond waar miljoene liter brandstof geberg word, is ’n R800 miljoen-gerief “en kan nie geskuif word nie”.
Botha en Schoeman, wat sedert 1 Augustus 2021 op die perseel werk, sê die riool borrel tot drie maal per dag oor, en die pad voor die perseel bly nat weens dié oorstromings. Dit veroorsaak skade aan die oppervlak van die pad, wat meestal deur swaarder voertuie gebruik word.
Ondernemings in die straat sukkel glo met verstopte rioolstelsels. Boonop het ondernemings hier ook soms geen water in die krane nie. Vermoedelik is die grootte van die rioolpyp nie aangepas of in ag geneem met onder meer die oprigting van ’n winkelsentrum en ander ondernemings in die gebied nie.
Voorheen het herhaaldelike oproepe aan die munisipaliteit geen blywende oplossing van die rioolprobleem meegebring nie.
Sharon Steyn, uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), het op 29 Maart in samewerking met Roburn Construction besluit om in te gryp omdat die stand van dienslewering in die hoofstad van die provinsie nie langer so gelaat kan word nie.
Harry Hurndall van Roburn Construction het onderneem om te doen wat nodig is om die rioolpyp te herstel, sou die munisipaliteit dit nie doen nie. Die rekening sal dan aan die munisipaliteit oorhandig word.
“Óf die munisipaliteit moet die rekening betaal, óf hy moet die ondernemings se heffings afskryf, soos wat met sekere ondernemings gedoen word,” sê Steyn.
Hurndall sê die maatskappy, ’n lid van Nocci, wil help – ter wille van Kimberley.
- ’n Span munisipale werkers het intussen dele van die rioolpyp in Studystraat skoongemaak. Sedertdien het die oorloop van die riool skynbaar nog nie weer plaasgevind nie, maar die stand van die pyp word dopgehou.