Mense beoefen verskillende beroepe. Die hoop bestaan dat mense met ’n sekere aanleg uiteindelik in ’n verwante beroep sal beland.
Om met jou hande te kan skep is iets besonders. Selfs om jou hande te kan gebruik om iets te herstel is kosbaar.
Gee jy vir twee mense, albei met tien vingers, dieselfde materiaal om iets te skep, kom twee uiteenlopende, unieke produkte tot stand.
Die gestoei daarvan om iets te skep (of selfs te herstel) is dat daar iets meer daaragter sit.
Daar gaan iets persoonliks van die individu wat daarmee gemoeid is in hierdie betrokke projek in.
Min mense kan iets skep of herstel sonder om in ’n meerdere of mindere mate betrokke te raak. Gesels jy met mense soos loodgieters en elektrisiëns, staan jy verstom oor hoe ondankbaar kliënte soms is.
Aanvanklik is dit ’n krisis en moet die warmwatertoestel of kragpunt so gou as moontlik herstel word.
Daarna word elke verskoning onder die son gebruik om nie die rekening te vereffen nie.
Die werk is nie reg gedoen nie (hoewel dit reg gedoen is).
Die werk is nie vinnig genoeg gedoen nie.
Selfs, die werk is te vinnig gedoen om die rekening te regverdig.
Mense in hierdie soort bedrywe raak soms moedeloos.
Hulle sit iets van hulself in hierdie beroepe in. Respekteer dit sover moontlik.