TJ van der Walt (18) van Hopetown op die o.20-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Colombia.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

TJ van der Walt (18) tydens die 2021 Youth Games in Lesotho.

Die naam van ’n matriekleerling aan die Hoërskool Hopetown pryk op die atletiek-wêreldranglys ná sy onlangse deelname aan die o.20-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Cali, Colombia.

TJ van der Walt (18) het Suid-Afrika van 1 tot 6 Augustus op dié byeenkoms in die 400 m-nommer, asook die 400 m-aflos, verteen­woordig.

In die 400 m-nommer het TJ die halfeindronde gehaal, wat hom ’n algehele 21ste plek op die wêreld­ranglys gegee het. In die 400 m-aflos was sy span algeheel vyfde in die eindronde.

Kortafstande is TJ se domein en hy neem ook aan die 100 m- en 200 m-nommers deel, met die 400 m as sy hoofnommer.

Sy ma, Maryna, wat hom help afrig, vertel dat hy reeds sedert gr. 1 aan atletiek deelneem en dat hulle as gesin ’n groot liefde vir atletiek het. Sedert gr. 5 het hy elke jaar sy provinsie in die Suid-Afrikaanse kampioenskap verteenwoordig.

Hoewel TJ nog in die skool is, is hy reeds van 2021 af deel van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se atletiekspan, en neem hy aan die Suid-Afrikaanse junior- sowel as senior-atletiekampioenskap deel.

In ’n wedloop is wen ’n bysaak, veral omdat hy teen seniors meeding. Aangesien die 400 m-nommer ’n baie strategiese wedloop is, leer dit hom om eerder op sy wedloop-plan te fokus.

Een van die hoogtepunte wat TJ bereik het, was toe hy as ’n o.15-atleet die 400 m-nommer in die Suid-Afrikaanse kampioenskap gewen het – dit nadat hy agt maande vantevore sy enkel in ’n rugbywedstryd gebreek en twee operasies ondergaan het.

In 2021 was hy in die Suid-Afrikaanse span ingesluit om aan die Youth Games in Lesotho deel te neem, maar weens die Covid-19-pandemie moes die span sonder deelname terugkeer.

TJ oefen twee maal per dag. In die oggend het hy ’n gimnasiumsessie en in die middae doen hy sy hardloop­program. Tydens die inperking is ’n oefenbaan vir hom op sy ouerplaas uitgelê waarvan hy baie gebruik maak. Tans, wWeens verpligtinge met die matriekrekordeksamen, is dit vir hom ’n uitdaging om by dié oefenprogram te hou. Ná sy deelname in Colombia, waar hy vir twee weke was, is ekstra klasse en ekstra ure nodig om skoolwerk in te haal.

Sy doelwit vir nou is om eers sy skoolloopbaan af te handel, en om dan op volgende jaar se atletiekbyeenkomste te fokus.

Ná skool sal hy hom graag in sportwetenskap wil bekwaam.

TJ se mikpunt vir sy atletiek­loopbaan is om in die toekoms aan nog internasionale byeenkomste deel te neem, en sal hy ook graag vir die Olimpiese Spele wil kwalifiseer.

TJ van der Walt van Hopetown tydens die 400 m-aflos by die o.20-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Colombia.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article