Die besluit om haar man, Leon Brits, te laat vermoor was die swakste een van haar lewe. Só het Suretha Brits Maandag (29/11) in trane in die rondgaande hof in Upington gesê.
Sy het in die verhoor van die twee vermeende moordenaars getuig. Suretha dien ’n vonnis van 25 jaar gevangenisstraf vir moord en roof met verswarende omstandighede uit nadat sy erken het sy het Leon laat vermoor omdat hy haar emosioneel, fisiek en seksueel mishandel het sedert sy 14 jaar oud was.
Hoewel sy aanvanklik skuld ontken het, het haar berou en kommer oor haar kinders se veiligheid haar genoop om vier maande gelede met die waarheid na vore te kom en ’n pleitooreenkoms met die staat aan te gaan.
Leon, ’n hotelier van Pofadder, is op 7 Oktober 2020 by sy huis na bewering deur Enrich Williams en Amantle Bareki verwurg. Sy lyk is in die swembad gegooi. Suretha het ’n ou vriend, Jacques van Vuuren, as die middelman genader, wat op sy beurt die twee beskuldigdes betrek het. Van Vuuren het glo die vermeende moordenaars na die moordhuis aangery en elders gewag, waarna hy hulle weer na Kathu sou terugbring. Hy het, soos Suretha, ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en as staatsgetuie in Williams en Bareki se verhoor getuig. Hy dien ’n effektiewe vonnis van 20 jaar uit.
Suretha, wat destyds reeds die helfte van die beloofde R400 000 vir die huurmoord betaal het, het op Leon se lyk afgekom. Sy het in die hof in trane uitgebars nadat Katlego Moribe, Williams en Bareki se regsverteenwoordiger, foto’s van Leon se lyk aan haar gewys het. Waarnemende regter Stanley O’ Brien het gesê dit is onsensitief omdat Suretha erken wat sy gedoen het. Dit was vir haar hoogs ontstellend om sy lyk in die swembad te vind; te sien dat hy verwurg en gesteek is.
Sy het getuig die ooreenkoms was dat Leon met “onwettige vuurwapens” geskiet sou word. Terwyl Suretha huilend getuig het, het haar ma, Ilse Coetsee, ook in die galery gehuil.
Vier maande voordat haar verhoor op 15 November sou begin, het Suretha besluit om die waarheid te praat.
Suretha voer aan sy het die twee beskuldigdes op die dag van die moord op die pad tussen Pofadder en Kakamas gesien. Leon was pas vermoor. Sy was van Kakamas onderweg na Pofadder en het afgespreek om Van Vuuren, wat op pad na Kakamas was, langs die pad te ontmoet. Van Vuuren wou die tweede selfoon wat sy gebruik het om die moord te help beplan, vernietig. Volgens Suretha was die motors oorkant mekaar in teenoorgestelde rigtings geparkeer, maar sy kon in hul motor insien.
In sy getuienis het Van Vuuren verlede week getuig die motors het 20 m uitmekaar gestaan.
Sy het die vermeende moordenaars ’n tweede keer gesien toe hulle die eerste keer in die hof in Pofadder aangekla is. Sy is ook in die gevangenis gedreig deur mense wat glo namens Williams optree. Sy het volgehou dat Williams en Bareki na bewering die moord gepleeg het.
Nadat sy haar getuienis afgesluit het en na die selle op pad was, het Suretha na haar ma en suster, Babsie Husselmann, gekyk en geprewel dat sy vir hulle lief is.
Die verhoor duur voort.