’n Geleentheid om by te dra tot Kersfeesgeskenke vir die inwoners van die Jannie Roux-kinder-en-jeugsorgsentrum in Barkly-Wes word op Saterdag 9 Desember tydens Kimberley Markets se maandelikse mark by die Groot Gat in Kimberley gebied.
Die mark duur van 09:00 tot 21:00 en geskenke kan by die mark by die DJ se staanplek ingegee word.
“Ons beplan om vir elke kind ’n geluk- en ’n geskenkpakkie op te maak,” sê Marais Tesner van Kimberley Markets.
Tesner sê hulle verkies dat geskenke, gebruiksartikels en lekkernye geskenk word, en nie geld nie.
Altesaam 77 kinders word permanent op die Jannie Roux-kampus versorg.
Die 34 meisies se hul ouderdomme wissel van vyf tot 19 jaar. Die 43 seuns se ouderdomme wissel van vier tot 18 jaar.
Die Jannie Roux-kinder-en-jeugsorgsentrum is ’n nie-winsgewende organisasie, en daar word op skenkings staatgemaak om kop bo water te hou.
Alle geskenke en skenkings sal volgens beplanning op 15 Desember by die Jannie Roux-kinder-en-jeugsorgsentrum afgelaai word.
“Ons neem Kersvader ook saam om geskenke uit te deel,” sê Tesner.
Bel hom by 082-309-7885 vir meer inligting.





