Leerlinge se terugkeer skool toe ná die noodgewonge sluiting weens die inperking verloop vlot vir ’n laerskool in Upington nadat ’n begrafnisonderneming gesigmaskers geskenk het om met die bekamping van Covid-19 te help.
Om die veiligheid van leerlinge te verseker het Jeudfra-begrafnisondernemers 80 maskers aan die Intermediêre Skool Frank Biggs in Louisvale oorhandig.
Elke leerling het ook ’n klein botteltjie handreiniger ontvang.
Wally Cloete, skoolhoof, sê hy is dankbaar dat James Booysen, eienaar van die begrafnisonderneming, die nood en behoefte van arm leerlinge wat in dié moeilike ekonomiese omstandighede swaar trek, raakgesien het.
Hy sê sy leerlinge is nou toegerus om die koronavirus te beveg.
“Ons is baie bly vir die goeie daad van ’n sakeondernemer wat uit ons eie dorp kom en vra dat ander ondernemings in hierdie tyd die departement van onderwys en ons skool help,” sê Cloete.
Met die oorhandiging was Booysen se boodskap aan die leerlinge dat hulle gereeld hul hande moet was, of andersins die botteltjie handreiniger gebruik om hul hande skoon te hou.