Clementine Marais, een van die versorgers in die afdeling vir junior meisies, help ’n inwoner van Caritas-gemeenskapsfokus se kinder- en jeugsorgsentrumem met haar skoolwerk.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Meer as 80 kinders, van gr. 1 tot gr. 12, wat in ’n sorgsentrum in Barkly-Wes bly, het dringend hulp met skoolwerk nodig.

Dié kinders van Caritas-gemeenskapsfokus se kinder- en jeugsorgsentrum op die Jannie Roux-kampus het nie voldoende ondersteuning met skoolwerk en skooltake nie, en gevolglik presteer hulle nie na wense in die skole wat hulle bywoon nie.

“Hulle het hulp met al die skoolvakke en take nodig. Tans moet hulle op die versorgers of maatskaplike werkers vir ondersteuning hiermee staatmaak. Die gevolg is dat die terapie afgeskeep word,” sê Judith Evans, programbestuurder van maatskaplike dienste en gemeenskapsontwikkeling by Caritas.

“Dit is werklik ’n nood. Hierdie kinders se vordering en ontwikkeling is so belangrik, en dit sluit skolastiese ontwikkeling in.”

Boonop het die kinders, wat almal Afrikaans as voertaal gebruik, ’n groot behoefte aan aandag; aan iemand wat in hulle belangstel.

“Baie van die kinders voel: As daar niemand is wat my help nie; wat in my belangstel nie, waarom moet ek belangstel?” sê Evans, wat beklemtoon dat versorgers en maatskaplike werkers se dae reeds vol met hul werksverpligtinge is.

Carla Botes, waarnemende hoof van die kinder- en jeugsorgsentrum, sê om elke skoolkwartaal die vereiste skryfbehoeftes vir elke kind volgens sy of haar graad te bekom, is ’n geweldige uitdaging.

Dit sluit spesifieke skrifte volgens graad in, asook oortrekpapier, voorgeskrewe lêers, sakrekenaars en die lys gaan aan.

“Dit is nog haalbaar om van hierdie artikels aan te skaf, maar om boonop vir elke kind ’n behoorlike skooltas in die hande te kry, is baie moeiliker en baie duur.”
Carla Botes

Ander artikels wat die kinders gereeld benodig, is tydskrifte waaruit prente vir take gesny kan word; klei om modelle van te maak; gekleurde papier; plakkaatpapier of karton; versierings vir die taak soos onder meer blinkers en plakkertjies; en ook ’n verskeidenheid kleurpenne en viltpenne (koki’s).

’n Rekenaar met internet­verbinding, asook ’n drukker, is wel vir die kinders in die sentrum beskikbaar.

Die Caritas-gemeenskapsfokus bestaan reeds meer as 120 jaar en was deur die jare by die ophef van behoeftiges, veral die versorging van verwaarloosde kinders, betrokke. Caritas, ’n niewinsgewende organisasie, het oor die jare heen in ’n maatskaplikewerksorganisasie ontwikkel.

Besoek caritas.org.za om meer uit te vind van die omvattende diens wat deur Caritas gelewer word.

  • Enigeen wat die kinders met skoolwerk en verwante ondersteuning kan help, kan Evans by 083-231-6126 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article