Wanneer ’n kind vir ’n mens ’n lewensles leer, moet jy mooi luister.
Kinders het mos ’n wysheid aan hulle wat nie uit boeke kom nie, nog nie van ervaring getuig nie en doodgewoon in kinderlike opregtheid en egtheid gebore is.
So ’n paar jaar gelede leer ek by ’n jong meisie so ’n lewensles in net twee woorde, naamlik: “Ek wou.”
Sy het ’n besonderse prestasie bereik en terwyl almal haar nog gelukwens, is haar reaksie vol eenvoud. Sy wou. En sy het.
Sy het vir haarself ’n doelwit gestel, hard gewerk en dit bereik.
Ons kan so maklik ophou droom, ophou om onsself uit te daag, nalaat om gereeld ons doelwitte weer in oënskou te neem.
Ons moenie.
Ons moet aanhou droom, aanhou werk om ons doel te bereik, aanhou doelwitte stel. Natuurlik verwesenlik ons nie al ons drome nie en is ons nie altyd suksesvol nie, maar ons moet nooit ophou doelwitte stel nie.
Ons kan so maklik ons drome en doelwitte laat vaar omdat ons ons wil en moed verloor.
Ons kan maklik doelwitte stel wat nie belangrik is nie, maar hoe lyk ons hartsdoelwitte – hoe lyk dit wat ons graag wil bereik? Is dit vir ons belangrik genoeg?
Groot of klein, hou aan om jouself uit te daag.
Daardie klein meisie was vir my so ’n mooi voorbeeld. Haar getuienis was so kragtig. Sy wou. Ondanks haar blindwees het sy haar droom gesien.

