’n Bejaarde vrou wat in die Dr. Harry Surtie-hospitaal in Upington opgeneem is nadat sy geval het en beseer is, beweer sy is op Donderdagaand 1 Februarie langer as drie uur in die hospitaal met ’n vuil doek gelaat.
Die vrou, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê die susters het gesê hulle sal ná teetyd na haar omsien, maar dit was glo eers meer as drie uur later dat hulle haar gehelp het.
Die verpleegsusters ontken dat hulle die vrou langer as drie uur sonder hulp gelaat het.
Nog ’n inwoner van Upington sê haar ouma was verlede jaar in dié hospitaal en is ook ure lank met ’n vuil doek gelos.
Die vrou sê toe hulle met besoektyd haar ouma die eerste keer sien, was haar lippe vaal van die dors.
“Haar doek was nie omgeruil nie. Niks is gedoen nie. Dit is toe dat ons besluit het ons los haar nie weer alleen nie. My ma en my tannie het 24 uur by haar gewaak en haar versorg.”
Samantha Greeff sê haar dogter is ’n jaar gelede in die hospitaal dood.
“Ek het gesien sy moet ’n skandering ondergaan, maar hulle het haar liewer onder verdowing gehou. Toe ek haar besoek, het ek haar gevind waar sy aan die bed vasgemaak was.”
Greeff sê sy was die volgende dag nog op pad om vir haar dogter kos en skoon slaapklere te neem, toe sy ’n oproep van die hospitaal ontvang om te sê haar dogter is dood.
Intussen het dit aan die lig gekom dat die hospitaal nie oor basiese loophulpmiddele soos krukke en looprame beskik nie, en dat pasiënte wat dit benodig daarsonder ontslaan word.
Hennie Roux, VF Plus-raadslid van die Dawid Kruiper-munisipaliteit, het die hospitaal ná vele klagtes besoek en die ontdekking gemaak.
Volgens ’n ingeligte bron is daar al in Mei verlede jaar gevra dat voorraad vir loophulpmiddels verkry moet word, maar dit is glo steeds nie gedoen nie.
Dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier van dié party, sê die beloftes wat tydens die hospitaal se opening in 2014 gemaak is, staan in skrille kontras met die werklikheid.
Hy sê die ou Gordonia-hospitaal in Upington, asook die hospitale in De Aar en Kuruman, sou ná 2014 elk ’n satellietkampus van die Henriëtta Stockdale-verplegingskollege in Kimberley huisves.
’n Dekade later is daar geen teken hiervan nie.
Die Noord-Kaapse departement van gesondheid het nog nie op ’n medianavraag oor die bejaarde vrou se versorging of die beweerde tekort aan loophulpmiddels reageer nie.


