Joshua na die Reën
Joshua na die Reën oftewel Jacques de Villiers. Foto: Verskaf

Uit die meer as tien jaar se ervaring wat hy reeds in die musiekbedryf opgedoen het, het Jacques de Villiers van Joshua na die Reën-faam (JNDR) besef dat mense baie eenders is; dat almal na meer in die lewe soek.

Ook het hy tydens konserttoere en reise deur die land besef dat dit ‘n wonderlike plek is.

“Hoewel daar negatiewe dinge is, is daar meer om oor positief te wees,” sê hy.

JNDR tree Vrydagaand 29 Augustus tydens ‘n geleentheid vir vroue net buite Kimberley op, met Raziela Kosterman op viool en Stephen Jonathan op kitaar. Die geleentheid word deur die NG kerk Bakenskop aangebied.

JNDR is bekend vir betekenisvolle musiek, ‘n unieke styl, en diep lirieke – vroue wat die geleentheid bywoon, kan presies dit verwag én om van JNDR se nuutste lirieke te hoor.

Die natuur is sentraal in al JNDR se uitreikings, vanaf sy debuutalbum in September 2013, met “Lig op die Horison” as een van sy eerste groot treffers, gevolg deur die album “Die Wêreld binne my” (2016), “Someraarde (2019), en “Die Vallei” (2023).

“Die natuur is nog altyd in my lewe; dit voel nog altyd soos ‘n goeie vriend,” vertel Jacques, en sê baie van sy inspirasie kom van tyd wat hy in die natuur deurgebring het. “As ons mooi soek, gaan ons al die antwoorde in die natuur kry – God het dit so geskape.”

Joshua na die Reën oftewel Jacques de Villers. Foto: Verskaf

Hy vertel dat hulle op ‘n plaas tussen Johannesburg en Parys grootgeword het, en dat sy ouers hom en sy broers van jongs die verbintenis met die natuur geleer het. Sy ouers het nog altyd baie van reis gehou, en sy pa het verkies om die kleiner en meer onbekende paaie te ry.

Staproetes is ook op Jacques se lys van gunstelingdinge. Hy het al vele staproetes aangepak waaroor hy sê dat elkeen eintlik ‘n pelgrimstog is omdat dit ‘n mens na aan die natuur, en aan jouself, bring.

Kort nadat hy en sy vrou, Danél, getroud is, het hulle vir drie maande ‘n rugsaktoer deur Europa gedoen. Met drie jong kinders – twee dogters en ‘n seun – in die huis kom hulle tans nie veel by langer staptogte uit nie. Maar vir hom en Danél is dit belangrik om hul kinders só groot te maak dat hulle die balans in die lewe kan raaksien.

Hulle het meer as ‘n jaar gelede ‘n drastiese besluit geneem om tuisonderrig aan die kinders te gee. Hierdeur is dit moontlik dat sy gesin hom kan vergesel wanneer hy kruis en dwars oor die land heen optree.

Jacques sê hoewel daar werkbare sisteme in plek is, moet jy as gesin besluit wat die beste vir julle werk, en keuses daarvolgens maak.

Joshua na die Reën
Joshua na die Reën. Foto: Verskaf

Omdat hy bewus is van die noodsaaklike verbintenis tussen mens en natuur sien hy dinge raak wat ‘n skeiding tussen dié verbintenis bring, asook ‘n skeiding tussen gesinslede. Dit is vir hom opvallend dat wanneer ‘n mens byvoorbeeld in ‘n restaurant is, hoeveel mense om dieselfde tafel elkeen met sy selfoon besig is, sonder om met mekaar te kommunikeer.

Rekenaars en televisieskerms kan dieselfde invloed hê. Hoewel selfone, rekenaars en televisies ‘n gegewe is, moet dit met ‘n balans in gedagte gebruik word, en jy moet steeds by jou mense uitkom.

Die egpaar se kinders word onder meer geen skermtyd in die week toegelaat nie.

“Omdat hulle nog jonk is, is dit maklik om toe te pas,” sê hy met ‘n lag.

Benewens bewustheid van die natuur, het hy en sy broers grootgeword met ‘n verskeidenheid musiek in die huis.

“My ouers het na Meatloaf, Bonnie Tyler, klassieke en country musiek, Laurika Rauch, Theuns Jordaan en nog ander geluister,” vertel hy.

Josh Groban se liedjie, “You raise me up” sal hom altyd aan sy pa laat dink, terwyl die liedjie “Lord of the Dance” soos gesing deur Laurika Rauch. hom altyd aan sy ma laat dink. Vir homself wek Ben Howard se album, “I Forget Where We Were” baie emosie.

Deel verhale van stormagtige tye, tye van hoop

As deel van die aand se verrigtinge vertel ds. Arina Zandberg, leraar aan dié gemeente, van die pad wat sy en haar gesin gestap het toe sy enkele jare gelede ‘n kankerdiagnose ontvang het – dit terwyl sy swanger was met ‘n wonderwerkbaba waarvoor hulle jare gewag het.

Deels omdat Augustus Vrouemaand is, en deels omdat dr. Lizanne Small se werk op die positiewe fokus, kom sy ook aan die woord. Sy is ‘n plastiese en rekonstruktiewe chirurg van Kimberley.

Haar belangstelling sluit in estetiese velsorg, asook die hantering van velkankers, estetiese en rekonstruktiewe borschirurgie, en ook die rekonstruksie van brandwonde en traumaverwante beserings.

Bespreek kaartjies vóór plekke uitverkoop is

Vroue wat dié geleentheid bywoon, kan uitsien na vars koffie deur Barristers Coffee Bar, smullekker versnaperinge deur die kos-koningin Wilhelmina, en ‘n kontantkroeg.

Boonop is ‘n gratis aflaai-diens, geborg deur KIA Motors Kimberley, beskikbaar vir vroue wat nie kans sien om in die aand die afstand tussen die venue en Kimberley te ry nie. Dié diens sal vroue ná die geleentheid tot by Caltex Ranch Motors, op die hoek van Memorialweg en MacDougall-straat, neem.

  • Die geleentheid begin om 18:00 by Bella Cardi, wat ongeveer 8km buite Kimberley langs die N12 geleë is.
  • Beperkte plek is beskikbaar vir dié spesiale aand, waarvoor vroue kan optof. Bespreek ‘n kaartjie teen R360 per persoon direk by Zandberg by 082 323 0127.
  • Kaartjies kan ook aanlyn gekoop word deur hierdie skakel te volg.

NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg.

You need to be Logged In to leave a comment.