Opinie: ‘Hoor die noodkreet’

Ek het die voorreg gehad om vir die soveelste keer die inhuldiging van raadslede waar te neem en was bly om te sien dat jongmense ook in hierdie warm stoel wil sit.


Ek het die voorreg gehad om vir die soveelste keer die inhuldiging van raadslede waar te neem en was bly om te sien dat jongmense ook in hierdie warm stoel wil sit.

Die president het in een van sy toesprake genoem dat die regerende party sal verseker dat mense met die regte kwalifikasies aangestel word.

Siende dat selfs ’n 24-jarige tot burgemeester verkies is, wonder ek watter kwalifikasies benodig word om as raadslid te dien. Dié mense moet immers hul dorp na die volgende vlak van dienslewering lei.

Ons sien gereeld hoe leiers hulle in ’n pos bevind – en rookwolke oor hul kop hang omdat hulle die pos aankleef – maar telkens en wonderbaarlik die verantwoordelik­hede vryspring.

Net die tyd sal leer of die bloedjong raadslede werklik geroepe is vir hul rol en of die hitte van die stoel hulle sal vorm tot merk­waardige leiers wat ons land – en ’n dorp soos Postmasburg – nodig het.

’n Goeie leier word geken deur die begeerte om te vernuwe, te motiveer, te verbeter en te skep. Die aanvaarding van ’n leierskaps­posisie beteken nie jy kan mense lei of hul respek en agting geniet nie.

Ons dorp, en veral jongmense, het jong leiers se insig en voorbeeld nodig om nuwe rigting aan te dui in ’n dorp waar ’n veeldoelige sentrum meer gewig dra as ’n tegniese kollege. Hoe vorige raadslede die veeldoelige sentrum bo ’n tersiêre instelling kon goedkeur, slaan my steeds dronk.

Mag jong leiers die mondstuk wees vir jeugontwikkeling wat by die meeste plaaslike myne slegs op papier realiseer.

In openbare vergaderings van plaaslike myne en sonplase is dit gereeld “ingevoerde” mense wat vir ons kom wys wat ons nodig het terwyl ons vir ’n R50 000-tender onder mekaar vuisslaan.

In ons strate loop jongmense met BCom- en regsgrade; grade in menslike hulpbronnebestuur.

Mag jong leiers die vrae vra wat saak maak en gesonde debatvoering aanwakker om nuwe hoop en moed by ons jong werkloses te vestig.

Binnekort gaan ons drie plaaslike hoërskole baie werklose jongmense met groot fanfare produseer; talle wat hul loopbaan as pompjoggie gaan begin terwyl miljoene saggies onder ons neus gesteel word.

Mag die jong verkose leiers se oë oopgaan vir die noodkreet van hul portuurgroep en nooit hul werklike rol uit die oog verloor nie.

Postmasburg het soveel potensiaal, maar ons groei en vooruitgang word uit ander provinsies en lande bepaal.

Raadslede mors hul tyd deur ure te argumenteer oor “section this and subparagraph that” terwyl jongmense hulself saans aan die slaap huil oor die gebrek aan ’n werk.

Mag julle jong leiers ’n sterk standpunt inneem teen mynbase met politieke bande wat groot kontrakte sluit en soos soetkoek in Gauteng uitdeel, en wat op ons gemeenskappe – wit én swart – afgedwing word.

Armoede en werkloosheid onder jongmense in Postmasburg het niks met velkleur te doen nie.

Onthou: Integriteit weeg swaarder as kwalifikasies. – Verkort

  • Edward Smit is ’n vryskutjoernalis, gepubliseerde skrywer en voormalige onderwyser.

You need to be Logged In to leave a comment.