Die jaar het teen ‘n stewige pas aangedraf tot by die laaste maand van vanjaar se herfs. Die eerste twee maande van herfs het ongesiens, in ‘n waas van reën en mistigheid, verbygegaan.
Eers nou dat die son in ‘n amper wolkelose hemel skyn, lyk blare meteens na herfs. Nou eers dartel geel blare grond toe, en verkleur rankers in ‘n herfsrooi.
Noudat die son weer oor ons skyn en die spannetjie vakansiedae agter die blad is, kan daar ernstig op roetine gefokus word. Is ‘n mens deel van ‘n sekere groep werkendes, is vakansiedae niks anders nie as ‘n deurmekaarkrap van beplanning en die uitvoering van take.
Nog ‘n aspek wat die uitvoering van take beïnvloed, is die vinnig-veranderende digitale ruimte. Net wanneer jy dink jy snap die nuutste, is jy reeds agter. Nou steek kunsmatige intelligensie (KI) nog sy neus in digitale sake, en dit verg meer as kopkrap om nie te voel dat jou intelligensie-kwosiënt (IK) te kort skiet nie.
Dit is heerlik om vir Google Translate te lag wanneer hy ‘n krom vertaling aanbied. Of wanneer ‘n KI-robot ‘n opsomming aanbied wat jy met jou IK weet nie heeltemal korrek is nie.
Op Saterdag 3 Mei is Wêreldpersvryheidsdag gevier. Hiertydens het die Persraad van Suid-Afrika (PCSA) die blywende betekenis van ‘n vrye en onafhanklike media in ‘n vinnig-ontwikkelende digitale era erken. Die PCSA sê KI bied buitengewone geleenthede, maar ook beduidende uitdagings vir die medialandskap.
In ‘n verklaring sê die raad dat die kernbeginsels van etiese joernalistiek belangriker as vantevore is in hierdie “dapper nuwe wêreld”.
Die beginsels sluit akkuraatheid, regverdigheid, onpartydigheid en aanspreeklikheid in. Media-organisasies en joernaliste moet dit gebruik om vertroue by lesers te behou en moontlike bedreigings te bekamp.
Die raad bevestig dat joernaliste nie anders kan as om by KI betrokke te raak nie, maar dat moontlike etiese gevolge besef moet word.
PCSA-direkteur, Phathiswa Magopeni, sê dat die gebruik van KI deursigtig in die skep of verwerking van nuus gebruik moet word.
“Dit is om te verseker dat gehore kan onderskei tussen mensgeskrewe en KI-ondersteunde inhoud,” sê hy.
Intussen rol ‘n mens oë en snak na asem oor die fopnuus op veral sosialemediaplatforms wat ook ‘n KI-baadjie dra – pure wolf in skaapklere.