Load shedding is nie die einde van die aarde nie.”

Só het Sylvia Lucas, ANC-LP en ondervoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, verlede week in ’n debat in die parlement oor pres. Cyril Ramaphosa se onlangse staatsrede gesê.

Lucas, ’n voormalige premier van die Noord-Kaap, het aan Hanlie Retief van Rapport vertel dit is ’n verkeerde uitdrukking wat soveel opskudding veroorsaak het. Volgens Lucas is dit ’n terloopse opmerking in die hitte van die oomblik.

“Kyk na die konteks,” sê sy.

Lucas is ná haar uitlating hewig vanuit verskeie oorde kritiseer, met die kernboodskap dat beurtkrag wel die einde van mense se lewe, loopbaan of onderneming kan beteken, en beslis ’n beduidende invloed op die ekonomie het.

“Jy kan nie iemand se werklikheid ontken nie,” het Lucas ook gesê, en genoem dat elkeen die reg op sy eie werklikheid het; soos diegene wat destyds by kerslig vir eksamens studeer het, en nog van die emmerstelsel gebruik gemaak het.

Sy het ook verwys na Suid-Afrikaners wat eindelik in die nuwe bedeling ’n HOP-huis gekry het nadat hulle “onder ’n boom gebly het”.

Dit is ironies dat dié euwels uit die verlede steeds met ons is.

Weens beurtkrag is dit nie ongewoon om by kers- of lamplig te studeer of ander take te verrig nie. Weens soveel munisipaliteite se onvermoë om deurlopend watertoevoer te voorsien, is ’n kleinhuisie in die agterplaas of die emmerstelsel in vele gevalle wenslik bó ’n spoeltoilet wat nie kan spoel nie.

Daar is bejaardes, ook in die Noord-Kaap, wat reeds dekades vir ’n beloofde HOP-huis wag; ’n huis wat hulle hoop om te kry voordat hulle doodgaan.

“Baie van ons het wegbeweeg van die wrede verlede,” het Lucas opgemerk.

Maar met die nuutste kwartaallikse misdaadstatistieke wat verlede week uitgereik is, met gemiddeld 85,7 moorde per dag, lyk die toekoms op hierdie oomblik nie minder wreed nie.

You need to be Logged In to leave a comment.