Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Die eerste maand van herfs is soos ‘n ruimtetuig in die hemelruim verby: Ongesiens, tog daar.

Dat menige aardling nie tred hou met tyd se vlietende aard nie, is sigbaar in verouderde “tekens van die tye” wat ‘n mens daagliks raaksien.

Die tekens hier ter sprake is die swart ysterstellasies, sonder ‘n bottel handreiniger, wat steeds in soveel winkelingange en in ondernemings se ontvangslokaal staan. Sommige het nog ‘n bottel in, en hoewel ‘n mens jare ná die Covid-19-pandemie steeds mik om hande te ontsmet, is die bottels meestal vuil en die toestand van die inhoud onder verdenking.

Ook is daar plakkers aan ruite te sien wat aandui maskers is verpligtend. In hoeveel ondernemings is die plakkers wat die eenmeter-afstand aandui, nie steeds op die vloer geplak nie? Dat winkeleienaars en ander betrokkenes dit nie raaksien nie, kan weens tyd se aard wees, en ‘n besige program.

Winkelblindheid is eerder ter sprake: John Burkhauser, ‘n spesialis in die motornywerheid en skrywer, sê ‘n mens raak blind vir dit wat jy elke dag sien. Jou oë is oop, steeds sien jy nie.

Eerste indrukke tel, skryf hy. Uit sy meer as 30 jaar se ervaring in sakeredding kan hy met sy aankoms by ‘n onderneming dadelik weet hoe goed of sleg die situasie is.

Dit slegs op waarneming van die parkeerterrein en die gebou-aansig. Onder hierdie miskyk van die visuele wat powere bestuur kan uitwys, kan talle aspekte tel: Verwaarloosde ingangroetes, vergete openbare ruimtes, ongeliefde geboue, vuil en stukkende sypaadjies, lekkende waterpype, oopgevlekte kragbokse, en meer.

Burkhauser stel voor dat ‘n buitestander met ‘n notaboek en pen alles van jou onderneming waarneem: Vanaf die indraai na die parkeerruimte, tot by die openbare toilette en die betaalpunt.

Hoeveel notaboeke sou nodig wees as die burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit dié versoek rig? En wat sou die duisende besoekers wat eersdaags die hoofstad van die Noord-Kaap vir die Wilde Klawer-sporttoernooi gaan instroom, in hul boekies skryf?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article