Pi. So kan die nuwe variant van die koronavirus glo heet wat volgens verwagting teen middel Mei met sy infeksie-omswerwinge kan begin.
Die variant sal Pi heet omdat dit ná Omikron die volgende letter in die Griekse alfabet is en die Wêreldgesondheidsorganisasie variante volgens die alfabet benoem.
Pi – of hy nou reeds in Suid-Afrika is of nie, en of dit iets is om oor bekommerd te wees of nie – is nie welkom nie.
Hier in die middelste maand van herfs, en met Paasnaweek in die vooruitsig, het ’n mens ’n dringende behoefte weg van Pi en sy trawante wat ’n mens se gemoedsrus omdolwe, jou lewensruimte – fisiek en emosioneel – beperk en jou vreugde steel.
Asof hulle bloedfamilie van Omikron en Pi is, kan ’n mens jouself daagliks in hierdie familie van vreugdestelers vasloop: die stygende prys van kookolie, hoender, brandstof en bykans elke artikel op ’n winkelrak; oorlog in die Okraïene en die uitkringende invloed daarvan die wêreld oor; die teneerdrukkende werklikheid van hope onwettig gestorte rommel op sypaadjies en in oop ruimtes; die toenenemde aantal slaggate; miljoene liter kosbare, vars water wat vermors in strate wegvloei; die ingesteldheid om eerder nog ’n vergadering te hou as om ’n positiewe verskil te maak; die bewuswording van al hoe meer haweloses in die strate; stygende moordsyfers … die lys is nimmereindigend en die vreugdestelers onbeperk.
Lank voor die koms van die vreugdestelers het filosowe reeds die koms van herfs simbolies beskou. Herfs bevestig glo die uitdrukking van die Griekse filosoof Heraklitus: “The only constant is change”.
Dié seisoen herinner ’n mens daaraan dat liggame, gedagtes en omgewing heeltyd verander; dat selfs die vreugdestelers se tyd verby sal gaan.
Of soos ’n mens sê wanneer slegte medisyne gedrink moet word: “Vat groot slukke, dan is dit gou verby”.

