Paasnaweek van 2024 is nou ook agter die rug. Hoewel dit soms voel of dit net anderdag nog Desembervakansie was, wink die naderende winter.
Tyd, en veral die verbygaan daarvan, is een van die werklikhede waarvan niemand kan ontsnap nie – selfs al vlieg jy in Nasa se toetsvliegtuig wat teen meer as 11 800 km/h deur die lugruim skeur.
So tersyde gestel: 1 April se gekkedag het ook tydens die afgelope langnaweek plaasgevind.
Gekgrappe is soos altyd gemaak, en met die oordosis fopnuus wat op sosialemediaplatforms opgedien word, wil ’n mens amper sê gekgrappe is besig om hul trefkrag te verloor.
Gooi in dié brousel die mees verstommende nuushooftrekke wat daagliks in die media te sien is, en elke dag is Gekkedag.
Word daar nie oor ’n geklike plan of uitspraak berig nie, is dit iemand of groep wat heel gek optree. Met die lees hiervan word ’n mens herinner: Die waarheid is inderdaad vreemder as fiksie.
Maar terug na die onderwerp van die vlietendheid van tyd: Voor ons oë uitvee, is die winterserpe en jasse weggepak en weergalm die eerste klingels van “Jingle Bells” in die winkels.
Intussen het ons soos Nasa se toetsvliegtuig skaars grond geraak en is jy weëmoedig omdat die tyd en so baie geleenthede verbygevlieg het. Dit is dan wanneer ’n mens jou behoort te verdiep in studies van die Blou Sones wat op verskeie plekke op aarde identifiseer is. In dié sones, is bevind, leef mense ’n aktiewe en produktiewe lewe tot die ouderdom van 100 jaar en ouer.
Die beginsels wat in die sones ooreenstem, is geen gekkespul nie, met eenvoud wat seëvier.
Al kan ’n mens dalk nie na hierdie wonderskone sones verhuis nie, is navorsers van mening dat elkeen met klein veranderings in sy huidige ruimte ’n gejaagde en geklike lewe na een van diepte en doel kan wysig. Want net soos Nasa se toetsvliegtuig het die mensdom dit nodig om terug na hul basis te keer.

