Die lekker kotiljons. Of kwêla, vastrap, masurka, wals, ruk-en-rol, rumba, menuet, polka, polonaise, charleston, riel, bolero, fandango, langarm, sokkie, toi-toi, fokstrot, stoftrap, seties, ballet . . .

Watter dansvorm ook al aangehang of beoefen word, aardbewoners word aangeraai om Vrydag (29/04), Wêrelddansdag, die litte en gemoed met hierdie aktiwiteit los te maak.

Dit is in verrassende teenstelling met die daaglikse moord, slagting op die paaie, swak dienslewering, natuurrampe en die lange lys van minder ligvoetse nuus.

Die doel van Wêrelddansdag is om die waarde en belangrikheid van dans as ’n kuns- en terapievorm te versterk.

Hoewel dans te min in die kollig is, los dit al hoe meer ’n volgbare spoor waar dit by terapie kom. Die kombinasie van musiek met beweging – selfs vir mense wat rolstoelgebonde is, het navorsing reeds bewys – kan wondere vir ’n gemoed en sommige siektetoestande doen.

So het die bedrywighede van die organisasie Dance for PD (Parkinson’s disease) oor die wêreld heen posgevat en bied dit terapie aan vir mense wat aan Parkinson se siekte ly. Dance for PD bied navorsinggesteunde klasse aan waartydens mense met dié siekte deur opgeleide mense op die maat van musiek met bewegings gehelp word.

Een vrou het onder meer vertel dat sy nie meer bottels se deksels kan oopdraai nie, maar sodra sy dit op die maat van musiek en as deel van die uitvoering van ’n dansbeweging doen, kan sy dit regkry.

Die doel van Wêrelddansdag is ook om aan regerings, politici en instellings die waarde wat dans vir ’n samelewing en ’n individu inhou te beklemtoon.

“People reflect each other constantly, but when they dance, perhaps what they reflect most is that moment of honesty,” het Sidi Larbi Cherkaoui, ’n danser en choreograaf gesê.

Uit eerlikheid kan elkeen voordeel trek, al is dit dan net eerlikheid teenoor jouself.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article