Hoofartikel: Verdryf koue met veiligheid eerste

Terwyl sneeu tans spierwit val oor dele van die land waar dit nie elke winter voorkom nie, tier woedende en ysige winde oor onder meer die sentrale binneland.


Terwyl sneeu tans spierwit val oor dele van die land waar dit nie elke winter voorkom nie, tier woedende en ysige winde oor onder meer die sentrale binneland.

Mense bibber en ril voor die natuur se krag en wend pogings aan om warm te bly – pogings wat fataal kan wees.

Die afgelope naweek is vier soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag vermoedelik weens koolstofmonoksied­vergiftiging dood toe hulle vuur in ’n vraghouer gemaak het om warm te bly.

Hierdie soldate was by ’n skag van ’n verlate myn buite Orkney in die stryd teen onwettige mynbedrywighede ontplooi. Hul vuurwapens en persoonlike besittings was steeds by hulle, wat gemene spel uitskakel.

Verlede week is drie seuns van Limpopo weens dieselfde oorsaak dood nadat hulle met houtskool vuur in ’n vertrek gemaak het om warm te bly.

Verlede jaar is ’n paartjie van Pretoria dood nadat hulle tydens ’n saamtrek ’n kampeerbrander in hul tent gebruik het om water te kook.

Dit het koolstofmonoksied afgegee, wat volgens dr. Gerhard Verdoorn, ’n toksikologiekenner, uiters giftig is. Dit is boonop reuk-, kleur- en smaakloos en mense besef nie hulle asem dit in nie. Hulle begin lomerig voel en raak aan die slaap, terwyl hulle vergiftig word.

Die rooiwarmvlamme van ’n vuurtjie – van watter aard ook al – gee hitte en skep ’n gevoel van huislikheid en koestering.

Dieselfde vlamme kan in ’n oogwink tot ’n verwoestende brand lei. Selfs ’n eenvoudige kers met een vlammetjie of een smeulende sigaretstompie is genoeg om brande te laat ontstaan wat huise en hektare natuur tot swart roet kan vernietig.

Saam met die koue van die winterseisoen en pogings om warm te bly, is dit ook nou die seisoen van brande. Tref voorsorgmaatreëls gepas vir jou omstandighede: ’n Emmer water of sand, ’n brandblusser of drie, maak voorbrande waar nodig, en verseker dat daar waar die rokie trek, die vuur geblus word.

You need to be Logged In to leave a comment.