“So, sy stap net?” was van die kommentaar wat die TikTok-beïnvloeder Mady Maio gekry het oor haar plasing van wat sy “silent walking” genoem het.
Maio van Kalifornië het in September ’n plasing oor “silent walking” gedoen – iets wat sy as lewensveranderend beskryf het.
Hierin het sy volgelinge van haar nuwe neiging vertel: Om sonder oorfone, musiek of enige interaksie op haar selfoon te gaan stap. Sy vertel dat “silent walking” haar die helderheid gegee het waarna sy nog altyd gesoek het.
“The brain fog lifted, suddenly all these ideas are flowing into me because I’m giving them space to enter,” sê sy.
Haar video het meer as ’n halfmiljoen “likes” gekry voordat dit afgehaal is.
“Gen X here, been silent walking for years” was een van die kommentare wat sy ontvang het – generasie X is diegene tussen 1965 en 1980 gebore.
Maio se video is skynbaar met verstomming ontvang; van diegene soos Gen X wat geen ander manier as stap in stilte (toegegee, met geluide van die natuur, verbygangers of verkeer op die agtergrond) ken nie, tot jonger geslagte wat bewerig vertel dat hulle dié uitdaging aangepak het.
So het TikTokker aimeejfit ook stap-in-stilte ’n eerste keer probeer; sy vertel hoe angstig sy was om sonder oorfone, musiek en selfoongesprekke te stap. Sy het haar nou tot minstens een “silent walk” per dag verbind.
Op eatingwell.com skryf Dillon Evans dat om tydens staptyd van tegnologie af te skakel ’n vorm van meditasie is; en ’n manier om met jouself en die omgewing aan te skakel. Mark Travers, op forbes.com, skryf ’n studie het in 2013 bevind dat stilte kan help om nuwe breinselle te skep, en jy leer interaksie met die natuur en mense in lewende lywe.
Maio se “uitvindsel” wil ’n mens laat lag. Tog, ongeag van generasie, kan die meeste van ons die uitdaging aanpak en skermtyd verminder; en met groot verligting voel hoe die “brain fog” en allerlei krankhede soos mis voor die son verdwyn.

