Vir die afgelope Sondag het die weerdienste voorspel dat Kimberley en omstreke ’n 100%-kans vir reën het – die wolke het volle samewerking gegee en dik strome water het straatlangs soos riviere gevloei.
Elders in die land is geweldige stormskade aangemeld. Massiewe bome is ontwortel, geboue byna platgevee. Vragmotors het in die Wes-Kaap omgewaai, skepe het weens woeste winde gebots. Die video’s van ’n vragmotorsleepwa en ’n karavaan wat voor die Hugenote-tonnel van die brug afwaai, is duisende kere gedeel.
Soos altyd met hewige reën en soos wat verwag is, het die huis se dak gelek waar dit voorheen gelek het. Ongeag herstelwerk.
Ook, soos verwag, het die mensdom bygedra dat dit behoorlik eienaardige nuus reën.
Soos die kerklede wat glo ’n 29-jarige man se hande afgekap het omdat hy volgens hulle ’n battery uit ’n wrak gesteel het.
Of soos die 28-jarige man van Hennenman wat in verband met ’n inbraak en diefstal in hegtenis geneem is
Daar was die onderhoud met die polisiekaptein wat ’n kenner is met die ondersoek van “killsurance”; ’n neiging wat hier toeneem en waar “polisvrate” familielede vermoor of laat vermoor vir polisgeld.
Daar was die artikel oor waarheidsoekers elders in die wêreld, wat joernaliste en wetenskaplikes insluit. Hulle beweer die virus wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het, is in ’n laboratorium geskep met grootskaalse finansiering deur belanghebbendes in Amerika, met die meeste werk wat in die Wuhan-instituut vir Virologie in China plaasgevind het.
Net soos wat die dak sal ophou lek wanneer dit nie meer reën nie en soos wat die son sal skyn sodra die wolke wegtrek, sal dié stroom vreemde nuusgebeure opdroog, en sal ons droëbek sit tot ’n volgende reënbui.




