Dit is ontstellend dat die sesjarige Joshlin Smith se ma een van die vier verdagtes is wat op Donderdag 7 Maart in die hof verskyn het op aanklagte van mensehandel en ontvoering.

Dié groenoog-meisie van ’n informele nedersetting by Diazville in Saldanha aan die Weskus het op 19 Februarie verdwyn; dit is ook die dag waarop haar ma haar by die polisie as vermis aangemeld het.

Sedertdien het Joshlin (dié spelling volgens die rekords van die skool waar sy ingeskryf is) se verdwyning nasionale aandag gekry, en het nie net verskeie spanne wetstoepassers na haar gesoek nie, maar ook groepe gemeenskapslede.

Nog meer ontstellend is die bewerings dat Joshlin se ma en ander betrokkenes haar glo vir R20 000 aan ’n tradisionele geneser vir moetie verkoop het.

Wat koue rillings gee, is die besef dat aan die ander kant van dié verskaffingsketting ’n “kliënt” is. Dr. Gérard Labuschagne, misdaadkenner en voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se ondersoekende sielkunde-eenheid, sê in Rapport van 10 Maart dat so ’n kliënt gewoonlik die tradisionele geneser nader om spesifieke probleme op te los; of vir byvoorbeeld mag oor ’n politikus, of beskerming vir ’n misdadiger.

“Só ’n geneser besluit watter bestanddele vir die moetie nodig is. Dit kan kruie en wortels, asook liggaamsdele van diere of mense insluit. In só ’n transaksie is drie partye betrokke: die kliënt, die tradisionele geneser en die moordenaar(s),” sê Labuschagne.

Teen druktyd was Joshlin nog nie gevind nie. So ook nie die sesjarige Lee-Virno van Wyk van die Louisvale-gemeenskap by Upington wat in Junie 2022 vermis geraak het nie. So ook nie talle ander jong kinders oor die land heen wie se name nie in opskrifte genoem word nie.

Iewers in hierdie verskaffingsketting vir moetie of mensehandel is daar skakels wat dié boosheid aanmekaar hou; skakels wat slegs met die waarheid gebreek kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article