Die lewe in die Britse koninkryk gaan nie meer dieselfde wees ná die afsterwe van die 96-jarige koningin Elizabeth II, wat vir 70 jaar en 214 dae geheers het nie.

Vir Brittanje sal haar dood ’n onomkeerbare verandering in die koninkryk – en in ander wêrelddele – teweeg bring.

Vir die mense van Jagersfontein sal die lewe ook nooit weer dieselfde wees ná die wal van die slikdam meegegee het, en mens, dier en besittings kilometers ver meegesleur is nie.

Toe die wal Sondagoggend breek, het die meeste inwoners waarskynlik nog die dag of die week wat voorlê, beplan.

Die 11 jong Noord-Kaapse mans wat ’n week tevore op slag in een padongeluk gesterf het, het ook hul dag en roete beplan, en was vasberade in hul rigting op pad.

So ook het die drie lede van die Brand-familie van Hartswater op die dag van 26 Julie 2020 planne vir hul dag gehad.

Maar meer as twee jaar later word grusame detail stuk vir stuk uit die mond van getuies en uit bewyse in die hooggeregshof in Kimberley aangehoor om die legkaart van die drie moorde te probeer voltooi.

Die dag toe talle arm jong meisies van onder meer Springbok wonderlike werksgeleenthede aangebied is, het ook hul lewe onomkeerbaar verander.

Tans staan ’n egpaar van dié Namakwalandse dorp in die Wes-Kaapse hooggeregshof tereg op aanklagtes van onder meer mensehandel, en dat hulle glo veral desperate tieners in ’n dwelm- en prostitusiehel gedompel het.

Aan vandag, môre, oormôre, volgende week, volgende jaar of “wanneer ek eendag aftree”, kan ’n mens beplan en bepeins soos jy wil; of dit selfs vanselfsprekend aanvaar sonder enige bepeinsing.

Maar al die planne, of selfs die gedagtelose aanvaarding dat alles status quo is, kan in ’n oogwink verander.

Elke dag is nie maar net nog ’n dag nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article