Die storie oor die wêreldstaptog van Elitom El-amin wat verlede week in die NoordkaapBulletin verskyn het, gryp die verbeelding aan.
El-amin van Ohio in Amerika beplan om vanaf Kaapstad tot in Magadan aan die verre noord-ooste van Rusland te stap. Hy hoop om dit in 2028 te bereik.
Tydens dié staptog verkondig hy sy lewensfilosofie in persoon, en ook op sosialemediaplatforms aan sy volgelinge oor die wêreld heen. Hy is ’n “breatharian” en is as ’n internasionale meester van langdurige vas bekend.
Vir diegene wat uitasem raak van een punt na die ander van ’n winkelsentrum, of uitgeput inkopiesakke in die kombuis neergooi omdat die afstand vanaf die voertuig tot in die kombuis te ver is, klink die sowat 22 300 km wat El-amin aandurf, onmoontlik. In werklikheid is dié afstand selfs ver vir diegene wat ultramarathons baasgeraak het.
Maar daar is iets aan stap wat verslawend is. Of terapeuties, met pelgrimstogte wat al meer gewild raak. Stap is die mees natuurlike en voordelige beweging vir ’n mens. Dit is eenvoudig en gratis, en word deur die mens in uitvoering van ander take en aksies gedoen.
’n Sportspesialis sê stap is so goed soos enige ander oefening.
“We live in a fast-paced society. Walking slows us down,” sê Robert Sweetgall, en Henry David Thoreau: “Me thinks that the moment my legs begin to move, my thoughts begin to flow.” Jacqueline Schiff skryf: “The best remedy for a short temper is a long walk,” en Laurette Mortimer: “Walking brings me back to myself.”
“A vigorous five-mile walk will do more good for an unhappy but otherwise healthy adult than all the medicine and psychology in the world,” skryf Paul Dudley White, en Baleka Kgositsile: “Today I took a walk around the block. It felt like a holiday in a far-off land.”
’n Mens het nie oortuiging nodig nie. Op ’n dag, wanneer El-amin omkyk, het hy dalk ’n rits stappers agter hom, net soos Forrest Gump.



