Stop en dink: Bied die skrikkeljaar hoop of verskrikking?

Foto: Helena Barnard

In 1996 het dit laas gebeur: Dat dié publikasie se verskynings­dag, wat Donderdae is, met skrikkeldag saamval.

Die jaartal voor dit waarin 29 Februarie ook op ’n Donderdag was, is 1968 – voor die publikasie se bestaan.

Skrikkeljaar, die jaar met ’n ekstra dag aan die einde van Februarie, gebeur – soos ons weet – net een maal in vier jaar.

Die woord “skrikkel” het sy oorsprong in Oudnederlands se “schrikkelen” wat oorslaan of spring beteken. Die Engelse “leap year” beteken “springjaar” of “om te spring”, aldus VivA Afrikaans.

Het diegene wat eeue gelede die stand van die planete gevolg het en somme gemaak het, nie besluit dat Februarie elke vier jaar ’n 29ste dag moes bykry nie – om die kalender in lyn met die aarde se omwentelinge om die son te hou nie – sou die kalender glo binne 100 jaar met 24 dae onakkuraat gewees het, aldus livethejourney.co.za.

Die bekendste gebruik of legende rondom skrikkeldag is dat ’n vrou ’n man op dié dag mag vra om te trou. Dié gebruik kom glo uit die vyfde eeu.

Op dié dag moes die vrou wat die groot vraag wou vra, ’n broek aantrek (daardie era het vroue net rokke gedra) of ’n helderrooi uitskoponderrok.

Sou die vrygesel nie ten gunste van die huweliksaanbod wees nie, moes hy as straf die vrou ’n soen gee, óf ’n syrok, óf 12 pare handskoene.

In talle wêrelddele word dit as ongelukkig beskou om op ’n skrikkeldag te trou. So ook is daar ’n bygeloof dat boontjies en ertjies wat in skrikkeljaar geplant word, onderstebo gaan groei.

In Rusland word geglo dat abnormale weerpatrone in ’n skrikkeljaar heers, met veel meer sterfgevalle wat plaasvind.

Met ongeveer 50 lande wat vanjaar verkiesing hou, en oorloë wat meedoënloos plaasvind, wil-wil ’n mens wonder wat die groot skrik van skrikkeljaar sal wees.

Veral omdat dit boonop voel of moederaarde al hoe vinniger tol – dalk om die onwennige aardbewoners soos vlooie van ’n hond se rug te laat spring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article