Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Lewenslank in die tronk. Dit is die voorland vir die 35-jarige Kelly Smith en haar twee kornuite ná die verdwyning van haar dogter Joshlin.

Hoe lank “lewenslank” volgens paroolregulasies gaan wees, is ‘n vraag wat later ‘n antwoord sal kry.

Waaroor wel sekerheid is, is dat sedert die verdwyning van die sesjarige Joshlin, ore gespits gebly het oor waar sy is. Sy het op 19 Februarie verlede jaar in Saldanha in die Wes-Kaap verdwyn. Kelly, haar kêrel en ‘n vriend is gou vasgetrek en van mensehandel en ontvoering aangekla. Die staat het aangevoer dat Kelly, ‘n selferkende tikverslaafde, Joshlin vir R20 000 aan ‘n sangoma verkoop het.

Verlede week is dié saak ná agt weke van hofsittings afgehandel. Hiertydens het ‘n mens heeltyd gehoop om iets van Joshlin se lot te hoor, maar tevergeefs. Die wat weet, handhaaf ‘n doodse swye.

Dan lees ‘n mens van ‘n hofsaak in Vanderbiljpark waar die lyk van ‘n kind – vermoedelik dié van ‘n seuntjie wat November vermis geraak het – gevind is. Sy ma is ‘n ruk gelede in hegtenis geneem omdat sy waarskynlik by haar kind se verdwyning betrokke is. Volgens berigte is ‘n sangoma verlede week ook in hierdie saak in hegtenis geneem. Hulle twee sou vroeg vandeesweek in die hof verskyn op klagte van moord en mensehandel. In dié saak voer die staat aan dat sy ma hom vir R75 000 verkoop het.

In ‘n berig op Netwerk24 sê dr. Marcel van der Watt, wêrelderkende kenner op die gebied van mensehandel, dat vanaf 2018 tot 2021 daar 782 kindslagoffers van mensehandel in Suid-Afrika was – dit wat wel aangemeld is.

In ‘n uittreksel van ‘n studie deur Van der Watt, skryf hy dat mensehandel in Suid-Afrika nie ‘n mite is nie. Dit is ook nie raar nie, maar ‘n stille sistemiese krisis. Boonop sê hy dat só ‘n mensehandel-saak nie ‘n spontane daad is nie, maar ‘n berekende misdryf.

Hy sê die Joshlin-saak is nie in isolasie nie, maar simboliseer die “duisende ander kinders wat in die skadu’s verdwyn het en wie se verdwyning nooit aangeteken is nie.”

Dit is tragies dat diegene met inligting, hetsy om die saak te ontrafel of in die eerste plek te verhoed, ook verkies om in die skadu te bly.

You need to be Logged In to leave a comment.