Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Ter illustrasie Credit: Helena Barnard

Elke “asbliksak-dag” weet jy wat wag. Honde blaf reeds van voor sonopkoms af, want die geluid van trolliewiele wat in die vroegoggend-stilte oor strate vibreer, jaag hulle op.

Asbliksak-dag is wanneer die spanne met trollies in woonbuurte opdaag om enigiets herwinbaar, en vir hulle van waarde, uit asbliksakke te delf wat op die sypaadjies neergesit word.

Dié trollies op sigself is ‘n studie werd. Dit wissel van duidelik herkenbaar as ‘n trollie van ‘n kettingwinkelgroep, tot ‘n aanmekaargeflansde gedoente met wiele wat perfek vir sy doel werk.

Sommige is slegs met glasbottels gelaai, ander met plastiek of karton, nog ander se inhoud is so verbloem dat dit nie geëien kan word nie.

Onwillekeurig beleef ‘n mens ‘n gevoel van frustrasie en irritasie. Want talle van dié “sakkrappers” of informele rommelherwinnaars laat ‘n behoorlike gemors agter nadat hulle deur die sakke gekrap het. Hulle sê graag: “Dis ‘ie ons nie. Dis ‘ie anner spanne wat so mors.”

Ander, gelukkig, grawe dit waarna hulle soek uit en knoop die sakke weer toe. Miskien is die grootste frustrasie dat dié mense meer van jou weet as die bure. Hulle leer jou ken deur dit wat jy weggooi of gebruik het.

‘n Frustrasie of nie, hierdie rommelherwinnaars verrig ‘n taak wat briljant kan wees met beter regulering. Dit is ‘n informele sektor wat soveel werksmoontlikhede inhou, en dié mense verrig harde handearbeid waarvoor min van ons kans sien.

Verskeie bronne sê daar is meer as 90 000 informele rommelherwinnaars in die land. Hulle maak 80% tot 90% van dit wat in Suid-Afrika herwin word, bymekaar en is hoofbetrokkenes in die land se herwinningsyfer van 57%.

Dit aldus Waste Integration in South Africa (Wisa) en ‘n studie van die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR).

Boonop bespaar dié mense munisipaliteite miljoene in die verwerking van rommel by stortingsterreine: ongeveer R750 miljoen per jaar, aldus die WNNR. Hulle doen dit deur onder meer plastiek, karton, papier, glas en metale uit huishoudelike rommel te verwyder voordat dit op stortingsterreine beland.

Ongeag die rommelherwinnaars se reuse, dog ongesiene, rol in die ekonomie en herwinning, voer hulle ‘n stryd.

Nie net ‘n stryd teen natuurkragte, lang en gevaarlike ure van werk in onhigiëniese toestande, teistering en die argwaan van die publiek nie. Hulle voer ook ‘n stryd om erkenning en ondersteuning.

You need to be Logged In to leave a comment.