So vroeg in September lyk dit nie te waffers na lente nie.
Behalwe die Namakwalandse blommeskouspel, is dit nog net die eerste bloeisels van die blomperske, lelies en ’n paar saailinge wat lente na lente laat lyk.
Ry ’n mens deur die Noord-Kaapse hoofstad, en op paaie na en deur omliggende dorpe, voel jy allermins lus om “Dis heerlike lente, die winter’s verby . . .” te sing.
Die veld is nog wintervaal en ontbloot. Seker dié dat die rommel en die lekkende waterpype in al die dorpe en in Kimberley so sigbaar is.
As dit nie so onooglik en droefgeestig was nie, kon ’n mens met uiterse verbeeldingskrag dog die leë polistereenhouers en wapperende winkelsakke is vrolike seilbootjies wat oor waterkanale skater, en die swart sakke met rommel rotse, of dalk walvisse.
Nee. ’n Duisend maal nee mag ’n mens gewoond raak aan rommel en die mens se traak-my-nie-agtigheid en onkunde om dit gedagteloos óf met opset neer te gooi.
In verlede week se hoofartikel is die feit dat géén van die vullisterreine in die Noord-Kaap aan ’n jaarlikse oudit voldoen het nie, aangeraak.
Dat woonbuurte en dorpe soos ’n vullisterrein lyk wat nie ’n oudit geslaag het nie, is nie net deur die onderskeie munisipaliteite se toedoen nie. Inwoners dra ook daartoe by.
In verskeie studies is voorheen bevind dat misdaad in ’n rommelbesaaide buurt gedy (dalk dié dat Suid-Afrika se misdaadstatistiek lyk soos dit lyk). So ook het ’n studie in Brittanje bevind dat ’n vuil omgewing tot frustrasie en depressie bydra, en tot laer eiendomswaarde.
Boonop is rommel die ideale habitat vir vlieë, brommers, rotte, muise, slange en muskiete.
Daarom, ’n pouveer in die hoed vir elke organisasie, groep en individu wat daadwerklik tot ’n skoner omgewing bydra.
Doen asseblief so voort.

