Van “politiek is nie my ding nie” en “watter verskil gaan my stem maak?” tot “die uitslae word in elk geval gekook”.
Verskonings oor waarom Suid-Afrikaners nie stem nie, en hulle ook nie vir verkiesings registreer nie, is talryk.
In Suid-Afrika – soos in lande oor die wêreld heen – was dit nie altyd ’n gegewe dat enige burger, ongeag geslag of ras, kon stem nie. Dat enige Suid-Afrikaanse burger wat 18 jaar of ouer is, en wat geregistreer het om te stem, wel so mag doen, is inderwaarheid ’n voorreg.
Die afgelope naweek het beamptes van die Verkiesingskommissie (OVK) in duisende lokale oor die land heen mense vir volgende jaar se nasionale en provinsiale verkiesing geregistreer.
Volgens die OVK is sy teiken van een miljoen registrasies oorskry, wat verblydend is. Suid-Afrikaners moet hul stem laat hoor; nie net lukraak op sosialemediaplatforms nie.
Verkiesings en hul uitslae het gevolge, sê die OVK op elections.org.za: “Jy het die mag om oor die gehalte van lewe vir jouself en jou gemeenskap, en toekomstige geslagte, te besluit.
“Deur te stem het jy die kans om op te staan vir sake waarin jy glo. Deur nie te stem nie, gee jy jou stem op. Verkiesingsuitslae word beslis deur diegene wat stem. As jy nie stem nie, gaan jy met iemand anders se stem moet saamleef.”
Om veral jong Suid-Afrikaners te help besluit watter politieke party hul “pasmaat” is, het ses universiteitsvriende ’n webwerf ontwikkel. Nadat ’n kort vraelys op Yoh, Vote ingevul is, maak die rekenaar op grond daarvan ’n aanbeveling oor ’n “politieke pasmaat”. Die ontwikkelaars, in hul 20s, het dit gedoen omdat hul tydgenote apaties oor demokrasie en stemreg is. Hulle sê dat hulle die politieke manifes van ander politieke partye nog wil byvoeg, maar dit is reeds ’n stap in die regte rigting.
Registreer; so maklik soos dit, aanlyn. En gaan trek jou kruisies in die verkiesing. Dit is dalk jou eerste stap om te besef dat jy wel ’n stem het wat tel.

