Oorlog kan vermy word, want dit is ’n “mensgemaakte ramp”.
Tog is meer as 82,4 miljoen mense oor die wêreld heen tans weens konflik ontwortel.
Dit is volgens die International Crisis Group (ICG), ’n onafhanklike organisasie wat hom beywer om oorloë te voorkom en staatsbeleide te help vorm vir ’n vreedsame wêreld.
Terwyl ons in Suid-Afrika ons ruimte, sonskyn, natuurskoon en grootskaalse vrede (ongeag patetiese dienslewering en stygende misdaad) geniet, is meer as 40 oorloë of konflikte in meer as 36 lande aan die gang; die meeste in die Midde-Ooste, Noord-Wes-Asië en Afrika suid van die Sahara, met ’n grootskaalse dwelmoorlog in Mexiko.
Volgens die ICG CrisisWatch is risikowaarskuwings benewens vir die Oekraïne vir Zimbabwe, Iran en Libië uitgereik. Dodelike politieke geweld word ook van 26 Maart af vir Zimbabwe rondom dié land se tussenverkiesings voorspel. Ook aan ons landsgrense is die Islamitiese militante-aanvalle in Mosambiek.
Terwyl ons in Suid-Afrika “oorlog kyk” terwyl dit buite ons landsgrense woed, het die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) reeds in 2018 gesê dat die land in oorlog teen homself is.
Die Suid-Afrikaanse samelewing raak al hoe meer gewelddadig, en dit word kwartaalliks deur die nasionale misdaadstatistieke gestaaf.
Volgens die ISS is toenemende geweld teen vroue en kinders die wortel van die “oorlog” omdat kinders wat in gewelddadige huishoudings grootword, meer geneig is om gewelddadig op te tree of om slagoffers te word. In sulke huishoudings is meestal ook nie geleentheid om kinders goeie waardes en eienskappe aan te leer wat tot goeie burgerskap kan lei nie.
Om die vrede in die land te bewaar, kan ons nie net meer “oorlog kyk” nie. Raak aktief betrokke by ’n forum, of wees ’n anonieme fluitjieblaser teen geweld, kabeldiefstal, korrupsie, misdaad in alle vorme en al die ander euwels wat so maklik ’n grootskaalse oorlog kan ontketen.