Korrupsie skend menseregte. En namate mense se regte en vryheid weggekalwe word, taan demokrasie en outoritêre mag neem toe. Dit skep weer geleenthede vir verdere korrupsie.
Só sê Delia Rubio, voorsitter van Transparency International, wat in Januarie die jaarlikse korrupsie-indeks gepubliseer het.
Hiervolgens maak Suid-Afrika, en talle ander lande, géén vordering teen korrupsie in die openbare sektor nie, skryf Marelize Barnard in ’n artikel op Netwerk24.
Suid-Afrika het ’n punt van 44 uit 100 vir die bekamping van korrupsie gekry en is in die 70ste plek uit 180 lande op die skaal. Dit is onveranderd sedert 2020.
Dit is een punt meer as die gemiddeld van 43 uit 100. Die indeks word saamgestel uit data van 13 onafhanklike bronne, insluitend die Wêreldbank en die Wêreld- Ekonomiese Forum, asook private risikokonsultante.
Op die skaal dui 0 die mees korrupte staat aan en 100 dui aan daar is geen korrupsie nie.
Die lande wat die beste in die bekamping van korrupsie vaar, is Denemarke, Finland en Nieu-Seeland, elk met 88 uit 100. Somalië (13), Sirië (13) en Suid-Soedan (11) vaar die swakste.
“Die enigste manier waarop mense kollektief kan optree om regerings vir korrupsie verantwoordbaar te hou, is as hulle vry is om daaroor te kan praat,” sê Rubio.
En die mense van Suid-Afrika, van die Noord-Kaap, praat. Inwoners van Kimberley, Kathu, Kuruman, Upington, Kakamas, Postmasburg, Christiana . . . noem maar op, praat.
Hulle verklaar oorlog teen swak dienslewering – ’n nare uitvloeisel van korrupsie – wat tot op elke vlak van die samelewing deursyfer; hulle praat op sosialemediaplatforms, in gedrukte plattelandse koerante.
Wanneer ’n mens ’n magdom korrupsieklagtes op een dag aanhoor, raak dit byna te veel om te glo; om in te neem.
Maar soos die spreekwoord lui: Die waarheid moet uit. Ons moet daaroor praat.

