Suid-Afrika het van die gevaarlikste paaie om op te bestuur.
Die styging van 14% in padsterftes tydens die 2021-’22-feestyd is deur die Automobiel Assosiasie (AA) as skokkend en kommerwekkend beskryf.
Die organisasie sê dringende ingryping is nodig – nie slegs beloftes van verandering nie.
Voorts sê die AA dit het geen nut dat owerhede aanhou om “menslike oorsake” as die sondebok vir padsterftes te bestempel nie.
In 2010 het die Wêreld- gesondheidsorganisasie bevind dat Suid-Afrika se gemiddelde padsterftesyfer van 31,9 per 100 000 mense veel hoër as die wêreldgemiddeld van 18 is.
Dié syfer groei glo soos wat padtoestande versleg, die aantal voertuie op paaie vermeerder, mense al hoe meer traak-my-nie-agtig word en bestuurders al hoe minder padreëls volg.
Zutobi, ’n internasionale maatskappy bemoeid met bestuursopleiding, het in 2019 in ’n studie bevind dat Suid-Afrika die gevaarlikste paaie ter wêreld het. Hoewel die studie baie kritiek gekry het, en ’n mens besef dat dit in ander lande veel wilder op die paaie gaan, is ’n padrit hier lank reeds nie meer ’n piekniek nie.
Enige padgebruiker hier behoort te weet die dae dat die woorde van Laurika Rauch se liedjie – “As die wiele rol en die tenk is vol / word die sorge agter jou klein” – waar was, lankal verby is.
Volgens die AA is ’n veel meer omvattende benadering nodig om veiliger padtoestande te skep as bloot ’n veldtog waar daar net op een aspek gefokus word.
Talle padgebruikers is moedeloos; talle ander bloot roekeloos. Voeg hierby die toestand met slaggate en gebrekkige padtekens, en dit is ’n perfekte resep vir ’n ramp en groot hartseer.
“Die geld is te min om paaie reg te maak,” word gereeld gehoor. Intussen is daar ruimte vir miljoene in die staatskas om te verdwyn.
Iewers het hoërskoolwiskunde die meeste van ons in die steek gelaat.