Ná die naweek se mislukte sluipmoordaanval op Donald Trump – wie hopelik geen bekendstelling nodig het nie – het sy vrou, Melania, die volgende op X geskryf:

“Liefde, deernis, vriendelikheid en empatie is noodsaaklikhede,” en dat “almal ’n wêreld wil hê waar respek die belangrikste is.”

Met die gereelde lees van kommentaar ná plasings op nuuswebwerwe en Facebook wil dit voorkom asof respek in te veel gevalle nie oorweeg word nie. Te veel kommentaar is tekenend van boeliegedrag en is uiters geniepsig, neerhalend en beterweterig.

Dr. Saima Muhammad Nawaz, onder meer ’n kliniese sielkundige en sake-konsultant, sê verskillende redes bestaan waarom mense sulke soort kommentaar op sosiale media lewer. Baie lewer dit anoniem, of onder ’n skuilnaam, wat hulle dinge laat skryf wat hulle nooit in ’n direkte gesprek sou sê nie.

Hul negatiewe kommentaar is in sekere gevalle ’n uitvloeisel van eie onsekerhede, en dit is ook verplaaste aggressie.

Narsiste doen dit ook graag, skryf sy, omdat dit hul ego streel en hulle in beheer van ander voel. Ander verkleineer mense om hulself beter te laat voel. Om aandag te trek, is ook ’n rede.

Vir die afsender en die ontvanger van sulke boodskappe wil ’n mens graag sê: “Onthou, dit gaan nie altyd oor jou nie.”

Die afsender kan daaraan dink dat die storie hom of haar dalk geensins direk beïnvloed nie; of dat geniepsigheid nie die situasie verbeter nie. Die ontvanger kan besef dat die afsender hom of haar nie eens persoonlik ken nie.

Die aanhaling wat glo in 1902 deur J.M. Barrie, skrywer van onder meer Peter Pan, geskryf is, is ook van waarde: “Shall we make a new rule of life from tonight: always to try to be a little kinder than is necessary?”

Sosiale media is deel van ons lewe; daarom, neem ook Nawaz se raad ter harte wanneer sy skryf: “Remember that social media is just a tiny part of your life, and don’t let negative comments bring you down.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article