Bykans elke Suid-Afrikaner het kennis of ondervinding hiervan: Die kleinhuisie op die erf.
Hierheen is ’n besoek onafwendbaar, ongeag ’n vrees vir allerlei krioelende gedrogte in so ’n ruimte, of die ongemak van die “gemakshuisie” wanneer die winterwind koud en skraal is, of die lastigheid van vlieë en brommers op snikhete somerdae (om nie eens die aanslag op die reuksintuig te noem nie).
Emmer- of puttoilette hoort in die verlede en in museums, vir genoemde redes en nog meer – wat veiligheidsaspekte insluit.
Uit inligting van 2022 se bevolking- en behuisingsensus wat verlede week bekend gemaak is, het die aantal Suid-Afrikaanse huishoudings wat van emmertoilette gebruik maak, nie in die afgelope tien jaar verander nie.
Volgens dié data, berig Alex Patrick van News24, gebruik 2,1% van die 17,8 miljoen huishoudings in Suid-Afrika emmers as ’n primêre toiletgerief. Die Noord-Kaap het die hoogste aantal “emmerhuishoudings”, met 4,5%. Die Wes-Kaap het die hoogste persentasie spoeltoilette (93,9%). Limpopo het die minste spoeltoilette (35,2%), met puttoilette sonder ventilasiepype die hoofsoort-toiletgerief hier.
Die algehele uitwissing van die emmerstelsel is ’n doelwit van die regering, met spoeltoilette die alternatief.
In 2016 skryf Chris Jones, ’n teoloog en meningskrywer, dat 37% van bruikbare water in die land weens lekkende pype verlore gaan. Hy verwys na ’n studie wat aandui dat die vraag na water teen 2030 die aanbod met 17% sal oorskry.
Met spoeltoilette gaan ontsaglik baie water verlore, en daarom behoort waterslim-opvoeding saam met die aanbring daarvan te kom, skryf hy.
Munisipaliteite val toenemend vas met basiese dienste, en veral waterverskaffing. Dit is nie ongewoon dat dorpenaars en stedelinge dae lank sonder water moet klaarkom nie.
Met dié vasval (nie in klei nie, want daar is nie water nie), lyk spoeltoilette lank nie meer na die beste alternatief nie.

