Die inhegtenisneming van drie amptenare van die verkeers-afdeling van die Sol Plaatje-munisipaliteit, wat vir beweerde bedrog met die uitreiking van bestuurslisensies aangekeer is, word verwelkom.

’n Mens hoef net om die hoek te ry om te vermoed dat menige bestuurder van sulke amptenare se “dienste” gebruik gemaak het.

Meer as 90% van alle voertuigongelukke word volgens cartrack.co.za deur onwenslike bestuursgedrag veroorsaak. Bande wat bars en weersomstandighede is nie die groot sondaars nie.

Volgens findmycar.au is die basiese eienskappe van ’n goeie voertuigbestuurder om padreëls voortdurend na te kom en te respekteer. Dit sluit die nakom van spoedbeperkings in, om padverkeerstekens te gehoorsaam, en selfs om flikkerligte te gebruik soos nodig.

Studies dui egter aan dat die meeste mense glo dat hulle bogemiddelde bestuursvernuf het en weet hoe om padreëls “veilig” te verbreek.

Boonop het navorsers bevind dat mense geneig is om gevaarlike bestuurspraktyke te normaliseer, en dit as gepas beskou om roekeloos te bestuur en padreëls te verbreek omdat “almal dit doen”.

Dit help nie om veldtogte te begin waarin foto’s en video’s van botsings gebruik word nie, want “dit sal nie met my gebeur nie,” is die opvatting. Die woord “ongeluk” is ook onwenslik. Dit skep die persepsie dat menslike faktore soos spoed, bestuur onder die invloed, selfoongebruik, nie-nakoming van padreëls en die nie-dra van ’n veiligheidsgordel nie juis ’n rol gespeel het nie.

In 2023 was daar 11 883 padsterftes in Suid-Afrika, aldus die Road Traffic Management Corporation (RTMC) se verslag.

’n Mens kan wonder hoeveel die amptenare wat vir lisensiebedrog in boeie geslaan word, en iedereen wat ’n lisensie “gekoop” het, hiertoe bygedra het. Voeg die oorgerustheid van die meeste bestuurders by, en die hoë padsterftesyfer van omtrent 33 slagoffers per dag is geen verrassing nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article