In die 14de eeu tref die Swart Pes die mensdom.

In dié pandemie sterf ongeveer 75 miljoen mense in Europa, Asië, die Midde-Ooste en Noord-Afrika van dié pes wat ook die buile- of buboniese pes genoem is.

Wanneer Swart Pes opgedoen is, het etterige buile in veral die nek-, lies- en onderarmkliere ontwikkel waarvan sommige so groot soos appels kon word.

Hierna het swart kolle aan die arms of bobene verskyn – vandaar die naam Swart Pes.

Ander simptome het gevolg en slagoffers hiervan is glo meestal twee tot sewe dae ná die aanvang van die infeksie dood.

Dié pes word ook rottepes genoem – dit word deur ’n bakterie veroorsaak wat algemeen in vlooie bestaan wat op onder meer rotte voorkom.

Dié rottepes het nie saam met die middeleeue verdwyn nie.

In Februarie 1901 breek builepes in Suid-Afrika uit, en ene prof. W.J. Simpson skryf dit is “een van die gevaarlikste en moeilikste epidemiese siekte om te hanteer”. Hy skryf dit is ’n “verraderlike pes”.

Gustav Hendrich skryf die verspreiding van builepes is in 1901 aangewakker deur “ ’n ongeërdheid oor voldoende higiëne” en rommel, kosafval en riool wat oral gestort is wat ’n teelaarde vir rotte geword het.

In 2024 is ’n paar gevalle hiervan in Amerika en elders in die wêreld aangetref.

Volgens ’n akademikus, prof. Nükhet Varlik, wys geskiedenis oor duisende jare dat dit onmoontlik is om sulke peste uit te roei – soos wat die Prediker geskryf het: “Daar is niks nuuts onder die son nie.”

Dan kan ’n mens nie help nie om te dink aan die onlangse sterfgevalle in Suid-Afrika waar kinders dood is weens blootstelling aan gif wat gebruik word om rotte onder beheer te probeer hou. Hierop het pres. Cyril Ramaphosa onder meer gesê dat munisipaliteite dringend moet optree om die hope rommel in dorpe en stede op te ruim. Gaan dit gedoen word?

Of wag ons eers vir ’n ou pes om opnuut uit te breek?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article