Vulkaniese uitbarstings. Aardbewings. Orkane. Tornado’s. Vloede. Droogtes. Tsoenami’s. Rotsstortings. Sneeustorms.

Kom natuurrampe ter sprake, slaak ons in Afrika soms ’n sug van verligting.

Talle van dié rampe is ons gespaar; en vind van dit wel hier plaas, is dit “matig” in vergelyking met wat in ander wêrelddele beleef word.

Die aardbewings wat Turkye en Sirië meer as ’n week gelede getref het, het meer as 37 000 lewens geëis, en die getal styg steeds. Hierna sit ons vasgenael voor skerms en kyk en ons blaai deur foto’s van ander se smart. Waarskynlik met ’n gevoel van dankie-tog-dis-nie-ons-nie.

Oor een van die mees onlangse “groot” tsoenami’s, wat in Desember 2004 in die Indiese Oseaan plaasgevind, is rolprente gemaak.

Dié tsoenami het duisende inwoners en vakansiegangers van en na onder meer Indonesië, Sri Lanka, Indië, die Maldive-eilande en Thailand getref.

Meer as 225 000 mense is in die ramp dood en talle vermistes is nooit gevind nie.

Verskeie debatte vind in akademiese en wetenskaplike kringe plaas oor of natuurrampe werklik natuurlik is.

Hoewel kragte van geofisika, geografie en klimatologie altyd by rampe betrokke is, is daar geleerdes wat sê dat alle natuurrampe inderwaarheid mensgemaak is.

Dit is die besluite wat die mensdom neem wat rampe veroorsaak, word op die webwerf reliefweb.int, van die Office for the Coordination of Humani­tarian Affairs, geskryf. Die natuur bied wel gevaarsones, maar dit is die mens se invloed wat dit in rampe verander.

Ná die onlangse redelike hewige reën in Kimberley en omstreke het ’n onbeduidende klein deeltjie hiervan duidelik geword toe reënwater huise oorstroom het. Die reënwater kon nie wegspoel nie weens die hope rommel wat die einste inwoners argeloos neergooi en wat die stormwaterpype verstop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article