Die kouer temperature wil ‘n mens oortuig om binnenshuis te wees. Tog is dit verkwikkend om juis dan buite te wees wanneer die koue jou laat stoomwolke blaas. Wanneer die wind uit die suide waai. Wanneer die herfsblare soos reëndruppels op jou neerval.

Dit is asof die bykans “ongerieflike” blootstelling aan die natuur-elemente ‘n mens meer lewendig laat voel.

Navorsing het lank reeds aangedui dat die mens se fisiese en geestelike gesondheid verbeter wanneer tyd in die natuur deurgebring word.

Volgens Britannica.com dui die begip biofilie die mens se ingebore aangetrokkenheid tot die natuur en ander vorme van lewe aan. Die natuurlike wêreld, met sy ryk verskeidenheid van vorme, kleure en lewe, word meesal universeel deur die mens waardeer.

Boonop beweer navorsing dat selfs die mens se geneigdheid om idiome te gebruik wat na die natuur verwys, ‘n verdere bewys is van die noue verband tussen mens en natuur. Eeue gelede het die mens meer in direkte en daaglikse blootstelling aan die natuur gelewe.

Die moderne eeu wemel egter van mensgemaakte konsepte wat daaglikse interaksie tussen mens en natuur skei. Hierdie skeiding word veral veroorsaak deur geslote en relatief steriele ruimtes – van huise, werksplekke tot vervoermiddels – waarin die moderne mens teen die element beskut is.

Dit is ruimtes waarin die mens nou die meeste van sy tyd deurbring. Die voortdurend groeiende digitale ruimte dra daartoe by dat mense nog meer tyd as voorheen in geslote ruimtes deurbring.

Internasionale natuurverwante dae wat herdenk word, maak die mens opnuut bewus van dit buite sy mensgemaakte ruimte: Die Wêrelddag van die Argan-boom (10 Mei); Wêrelddag vir Migrerende Voëls (10 Mei); Wêrelddag vir Bye (20 Mei), en die lys gaan aan.

Want hoe besig ‘n mens ook al in die mensgemaakte ruimte is, daag ‘n hunkering soms abrup en byna pynlik in jou borskas op.

Jy wil uit. Wil jou oë skrefies trek teen die son. Wil voel hoe jou neus- en vingerpunte koud word in die wind. Wil in die vroegoggend girts-girts stap oor die vlakte met hardgerypte gras. Wil ongeag die koue van die nag die volmaan bewonder.

Is ‘n mens dan werklik met die maan gepla? Na alle waarskynlikheid: Ja.

You need to be Logged In to leave a comment.