Saam met Augustus wat sy opwagting gemaak het, het die uitmergelende Augustuswind al rukkend en plukkend aan venster- en deurrame ook sy verskyning gemaak.
Dié wind, meestal vanuit die noorde, word as die reënwind beskou en moet in Augustus waai sodat dit in September kan begin reën, word geglo.
Benewens die droefgeestige stofdae wat dié wind uitwaai, kan dit boonop ’n beskeie vlammetjie in ’n woedende veldbrand laat ontaard.
Augustus verlede jaar, met sy ongekende aantal veldbrande, is nog vars in die geheue. Hierin is derduisende hektare weiding in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noord-Wes verwoes. ’n Groot aantal stuks vee en wilde diere is gedood of vermink, en talle eiendomme is tot op die grond afgebrand.
Hoewel al die brande nie met opset gestig is nie, was brandstigters wel vir van die voorvalle verantwoordelik.
In ’n artikel op Netwerk24 skryf Erika de Beer oor die “gruwelike handewerk van brandstigters” en sy vra: “Wat besiel hulle?”
Hierop antwoord prof. Jaco Barkhuizen, hoof van die departement kriminologie aan die Universiteit van Limpopo, dat daar ses hoofredes is waarom mense brande stig: vandalisme; die gevoel van opwinding; wraak; om misdaad te verbloem; wins – om ’n versekeringsuitbetaling te kry; en politieke motiewe.
Hy noem ook dat dit voorkom of al die mense in Suid-Afrika deur iets gaan wat hy posttraumatiese woede noem.
“Jy kan dit sien aan hoe ons ry, hoe ons bestuur, die hoeveelheid ongelukke op die pad. Ons is ’n baie kwaai land. Ons is net kwaad,” sê hy.
Intussen sê die opposisieparty in ’n verklaring dat die Noord-Kaap nié gereed is vir die veldbrandseisoen wat op pad is nie, en dat ’n gekoördineerde brand- of reaksiestelsel steeds nie op die been gebring is nie.
Mag die Augustuswind genadig wees, ’n wind van verandering wees. Mag dit hoop uitwaai; en die land se woede wegwaai.

