’n Mens moet altyd ’n paspoort en ’n padkaart gereed hê, want jy weet nooit waarheen jou pad kan lei nie.
Hierdie ingesteldheid is behoorlik deur die Covid-19-pandemie en ’n vaste roetine in die wiele gery (die wiele van Jan Tuisbly se karretjie, natuurlik).
Om daarom eindelik weer ná jare ’n internasionale lughawe aan te doen – al is dit slegs as die afsiener van die reisiger – gee die bevestiging dat reise wel moontlik is; dat daar ’n “iewers” en ’n “elders” is.
Bestemmings kom en gaan op die elektroniese inligtingsborde; vanaf Harare, Maun, Addis Abeba en Dubai, tot Parys en New York – oor die hele wêreld heen.
Op dié borde word aangedui dat ’n internasionale vlug byna elke vyf minute vertrek, waarskynlik in vliegtuie wat ’n hele paar honderd passasiers op een slag deur die hemelruim gaan vervoer.
So baie reisigers. So baie bestemmings.
Elkeen het ’n storie, ’n rede vir die uittog of terugtog.
Sommige reis alleen; ander reis saam met die hele familie, waar kinders soos bagasiestukke op die trollies gepak word.
Die inweeg van die bagasie gaan altyd met ’n tikkie spanning gepaard: Is dit dalk te swaar? Gaan dit na die regte bestemming gestuur word? Is die vliegtuigkaartjie in orde?
Met die afskeid voor die doeane-hok stap sommige regop-rug en met vaste tree deur die sekuriteitshekke; ander bly terugkyk, bly waai vir die afsieners wat wag totdat die reisiger agter die laaste afskorting verdwyn.
Sommige vlieg terug in tyd; sommige vlieg die tyd vooruit, oor die tydsones van die aardbol heen.
In baie gevalle is die reisiger steeds iewers hoog in die lug terwyl die afsiener reeds ’n paar uur op die pad deurgebring het . . . en reeds ’n eerste beker koffie tuis geniet het.
Maar wat ’n internasionale lughawe veral doen, is om ons te herinner aan hoe klein ons is; hoe uiteenlopend.
En hoe eenders.

