In so ’n groepie jeugdiges is daar altyd een wat die koppe laat draai; wat onmiskenbaar die cool-faktor en die leier is.
Dié koelkat pronkstap so ’n halwe treetjie voor haar volgelinge, wat haar trippelend in ’n halfmaan volg.
Al probeer hulle, hulle bly onopmerklik in die aura wat Koelkat met soveel oemf uitstraal dat aanskouers knipperoog kyk en weer kyk. (Wat op dees aarde het sy aan? Of nie aan nie? Hoe hou sy dit bo?) Koelkat het altyd ’n mooi gesiggie; ’n vars glimlag; ’n haarstyl wat ander begeer.
Wyk ’n mens se oë ’n oomblik van Koelkat af, sien jy haar volgelinge wat so nonchalant as moontlik probeer wees. Maar die afrem aan ’n opkruipende rompie; die wankel van ’n enkel op ’n hoë hak gaan nie ongesiens verby nie. ’n Mens kan jou selfs verbeel dat jy van hulle hoor dink: “Wanneer gaan ons asseblief-tog net iets eet?”
Tydens die afgelope naweek se byeenkoms van University Sports South Africa (USSA) se sewes-rugbykampioenskap vir mans en vroue van tersiêre instellings van oor die land heen, het die Noord-Kaapse hoofstad van jongmense gewemel – toeskouers én spelers. ’n Mens kon jou aan die jeugdigheid verkyk: die (soms valse) bravade; die voortvarendheid; die energie.
Vir so ’n stadion vol jeugdiges, wat vinniger as wat hulle dink in die grootmens-afdeling gaan wees, wil ’n mens raad gee. Praktiese wenke én filosofiese gedagtes uit eie ondervinding.
Jy hoef nie soos Koelkat te wees nie. Skop die spykerhakkies uit en trek jou “sneakers” aan.
Jy wat geboe is omdat jy ’n flop op die veld gemaak het: Ten minste was jy op die veld.
Moet niks tot ’n “volgende keer” uitstel nie; ’n volgende keer gebeur dalk nooit nie.
Glo maar vir Mahatma Gandhi wat gesê het: “The future depends on what we do in the present.” Dit is so: Jou keuses bepaal werklik jou pad.
En moenie dink tyd is aan jou kant nie; dat jy nog “jare se tyd” het nie. Die sand in die uurglas vloei vinniger uit as wat jy dink.

