Selfs diegene wat nie Saterdagaand met ’n uitsending van die wêreldbekerrugby se eindstryd opgesit het nie, voel dit gepas om tog ook ’n eier daaroor te lê.

In Rapport skryf Hendrik Cronjé dat die Springbokke steeds op die kruin van wêreldbekerrugby is nadat hulle die eerste span geword het om die beker vier keer te wen.

Die eerste keer was in 1995 (dink aan die onvergeetlike foto van oudpresident Nelson Mandela in sy Springbok­rugbytrui en kaptein Francois Pienaar met die wêreldbeker-trofee omhoog op Ellispark); daarna in 2007 en ook in 2019.

Met die sege op 24 Junie 1995 was die demokratiese Suid-Afrika net meer as ’n jaar oud. Toe was die meeste Suid-Afrikaners nog blinkoog oor dié reënboognasie.

Saam het hulle simbolies die beker omhoog gehou; gejuig oor ’n beter toekoms.

Saam met aartsbiskop Desmond Tutu het hulle aan die pot goud aan die voet van die reënboog geglo. (Tutu het voor sy dood gesê dat hy teleurgesteld is oor wat in die land aangaan; dat dit nie is waarvoor hulle geveg het nie).

Saterdagaand, 28 jaar later, was die meeste Suid-Afrikaners ook blinkoog van vreugde (eerstens omdat daar nie beurtkrag was nie, en tweedens oor die sege).

’n Paar uur lank kon hulle vergeet van blinkoog wees met trane oor diensleweringskwessies, werkloosheid, misdaad, hoë rentekoerse, onbekostigbare brandstof en meer, wat die reënboog laat verdof het (en die pot goud, omgekeer en dolleeg weens korrupsie).

Oor die nuutste sege het Springbok-kaptein Siya Kolisi gesê: “Alle eer aan die All Blacks; hulle het ons na ’n donker plek geneem en onder ongelooflike druk geplaas, maar ons het nooit ophou veg nie.

“Mense besef nie wat dit vir ons land, wat op die oomblik deur so baie gaan, beteken nie. Dit wys vir kinders van die Derdewêreld-land dat enigiets vermag kan word. Alles is moontlik.”

Laat ons dit (wil) glo. Vir Suid-Afrika: “Alles is moontlik.”

You need to be Logged In to leave a comment.