Soos ’n onversorgde vrou wat einde November met ’n blitsgesondheidsplan begin om teen middel-Desember viets, vars en skraal in ’n nuwe bikini op die strand te pryk.

Só was die poging om die Noord-Kaapse hoofstad voor die aanvang van die internasionale eendagkrieketreeks tussen Suid-Afrika en Engeland op te knap.

’n Mens sal ná twee weke van oordeelkundig eet, oefening doen, meer glimlag en selfs net meer gereeld die sjampoebottel nader trek, beter voel. Die skaal sal dalk effens minder kreun.

Maar dit is te min, selfs te laat, om jare se laat-maar-gaan om te keer, of weg te steek.

Om nou ’n hoed op te sit en sonskerm aan te smeer nadat dekades se sonskade reeds sy merk gelaat het is te laat. Om enkele slaggatgevulde strate rondom die Diamant-ovaal te probeer opknap met nog ’n vrag grond en nuwe padstrepe oor die grond en gate, is ook te laat.

Om ’n vars haarstyl te kry terwyl die mondhoeke steeds ongedurig afwaarts neig, en die hakskene in skeefgetrapte plakkies steeds jare se barste wys, is seker beter as niks. Maar dit is te min om die volle prentjie te verbeter.

Om bome langs enkele toegangsroetes te snoei en gras en onkruid op oorgroeide sypaadjies haastig te sny – terwyl stormwaterafvoerpype verstop is, waterpype lek, rommel ophoop, nalatenskappe verwoes word – is ook te min.

Om nou fyntjies aan slaaie sonder slaaisous te knibbel, en die inname van suiker en vet te verminder, gaan op die duur help. Maar vir nou is dit te min, te laat, om ’n invloed op die aangepakte are te hê, of op die oorwerkte hartspiere of omgekrapte pankreas.

Maar ja. ’n Mens moet iewers begin. Dalk kan die vrou teen Desember van ’n ander jaar die gewenste resultate behaal.

’n Mens moet iewers begin om Kimberley en die provinsie se dorpe weer in fatsoen te kry.

Daarom ’n saluut aan elke individu en groep wat ’n verskil probeer maak en reeds moeisaam daarmee voortbeur.

You need to be Logged In to leave a comment.