Krimpflasie. Dit is glo die woord wat die verskynsel beskryf wanneer die houer met roomys in die winkel meteens ’n inhoudsmaat van 1,8 liter het, en nie meer 2 liter nie.
Of wanneer die blok kaas, wat altyd 900 g geweeg het, nou 750 g weeg. So gaan die lysie van krimpende produkte aan; terwyl die prys nie saam met die verpakking krimp nie.
Krimpflasie kom oor die wêreld heen voor, en Suid-Korea het die verskynsel onlangs tot ’n oortreding verklaar en beskou dit as ’n onregverdige praktyk. In dié land sal vervaardigers voortaan drie maande lank etikette op produkte moet vertoon wat aandui dat die verpakking gaan verklein. Oortreders kan tot met 10 miljoen won (sowat R140 000) beboet word.
In Suid-Afrika loop verbruikers ook deur, en waar ’n mens byvoorbeeld voorheen ’n tertkors van een pakkie koekies kon maak, is van die pakkies nou kleiner en moet twee pakkies gekoop word.
Sommige vervaardigers sê hulle verklein die verpakking én verlaag die prys om die produk meer bekostigbaar te maak. ’n Kundige in bemarking sê verbruikers het ’n sielkundige weerstand teen prysverhogings, en dat vervaardigers dikwels krimpflasie toepas om mededingend te wees.
Jare gelede is die storie vertel van ’n tandepastamaatskappy wat dringend sy wins moes vergroot.
Kundiges in bemarking is glo ingeroep om nuwe veldtogte voor te lê; sessies is bestee aan die voorlegging van nuwe slagspreuke; die gebruik van nuwe kleure om meer aandag te trek, en wat nog. Tot ’n werknemer, wat glo nie deel van die sessies was nie, ’n eenvoudige oplossing voorgestel het: “Julle wil meer tandepasta verkoop? Maak die buisie se gaatjie groter. Die mense sal meer tandepasta gebruik, en die buisie sal vinniger leeg raak.”
Volgens die storie is die eenvoudige oplossing aanvaar, met verrykende gevolge vir die maatskappy, terwyl die verbruiker spierwit glimlag, min wetende dat hy wel om die bos gelei is.

